text
stringlengths 103
136k
| id
stringlengths 10
16
|
---|---|
Gereformeerde kerk Andeon
Die Gereformeerde kerk Andeon is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die noordweste van Pretoria wat tot 1980 bekendgestaan het as die Gereformeerde kerk Pretoria-Booysens.
Die gemeentegrense sluit, buiten die gelyknamige woonbuurt, ook Booysens, 'n gedeelte van Claremont en Kirkney in. Einde 2001 was hier 280 belydende en 89 dooplidmate, wat tot einde 2014 afgeneem het tot onderskeidelik 202 en 54. 'n Jaar later was dit 195 en 46.
| afr_Latn_100 |
Gereformeerde kerk Bergsig
Die Gereformeerde kerk Bergsig is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) noordnoordwes van Pretoria se middestad.
Die gemeente se naam is 'n vertaling van die woonbuurt waarin die kerkgebou geleë is, naamlik Mountain View. Die ander drie woonbuurte binne die gemeentegrense is Mayville, Roseville, Parktown en Suiderberg. Aan die begin van die 21ste eeu het die gemeente 319 belydende en 121 dooplidmate gehad, maar 14 later onderskeidelik 200 en 56 sodat die sieletal in die bestek 'n anderhalf dekade met meer as 40 persent afgeneem het. Einde 2015 het dit op 192 en 55 gestaan.
| afr_Latn_101 |
Gereformeerde kerk Daspoort
Die Gereformeerde kerk Daspoort is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die weste van Pretoria. Dit beslaan die gelyknamige woonbuurt asook 'n gedeelte van Claremont en Pretoria-Tuine.
| afr_Latn_102 |
Gereformeerde kerk Die Kandelaar
Die Gereformeerde kerk Die Kandelaar is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in Pretoria.
Die kerkgebou is geleë in die woonbuurt Waverley, maar volgens die gemeente se beskrywing in die Almanak van die GKSA sluit sy grense "Pretoria en omstreke" in omdat dit op 8 Oktober 1950 ontstaan het as die eerste gemeente van die Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Later het Die Kandelaar van die Vrye Gereformeerde Kerk afgeskei en eindelik in 1983 deel geword van die GKSA-kerkverband. Die VGK het wel nog twee gemeentes in die stad, Pretoria en Pretoria-Maranata.
| afr_Latn_103 |
Gereformeerde kerk Elandspoort
Die Gereformeerde kerk Elandspoort is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die weste van Pretoria. Dit was einde 2014 die naaskleinste Afrikaanse Gereformeerde kerk in die Jakarandastad met net 68 belydende en 25 dooplidmate, vergeleke met onderskeidelik 191 en 82 einde 2001, 'n afname in die sieletal van amper 66 persent. Die kerk sluit, buiten die gelyknamige woonbuurt, ook Danville, Kwaggasrand en Wespark in.
| afr_Latn_104 |
Aardeberaad
Die Aardeberaad was 'n groot internasionale beraad, ook bekend as die Rio-beraad, wat in 1992 in Rio de Janeiro, Brasilië, aangebied is. Tydens die beraad het wêreldleiers van die Verenigde Nasies maniere bespreek om die omgewing en die aarde se biodiversiteit te beskerm. Die beraad het van 13 tot 22 Junie 1992 geduur.
Die beraad is deur nagenoeg 50 000 mense bygewoon. Die meeste lande se staatshoofde was persoonlik teenwoordig. Dit was die grootste en sigbaarste internasionale byeenkoms wat die wêreld tot op daai stadium gesien het.
Kenmerkend van die Aardeberaad was dat die Verenigde State van Amerika, een van die grootste sondebokke wat aardverwarming betref, geweier het om die produksie van kweekhuisgasse in te perk. Ten tweede het hulle geweier om 'n verdrag oor die bewaring van die aarde se biologiese diversiteit te onderteken.
'n Tweede Aardeberaad, die Rio+20-konferensie, is in 2012 gehou. Dit is van 13 tot 22 Junie 2012, weer in Rio de Janeiro, aangebied.
| afr_Latn_105 |
Dhadi
Dhadi (Pandjabi: ਢਾਡੀ, Dhādi) of Dhadhi, is iemand wat ballades met die gebruik van 'n Dhadd (slaginstrument) sing. Die Sarangi word ook gebruik omdat beide bekende volksinstrumente van Punjab is. Volgens Kahn Singh Nabha se Mahan Kosh-ensiklopedie is die definisie van dhadhi "Iemand wat ballades van krygers sing en wat die Dhadd bespeel". Dhadis is 'n afsonderlike groep van sangers wat in die tye van die Sikh-goeroes na vore gekom het.
'n Groep van Dhadi-sangers word 'n Dhadi Jatha genoem. Die Pandjabi-woord Jatha beteken eenvoudig "groep".
| afr_Latn_106 |
Aartsbiskop van Kantelberg
Die Aartsbiskop van Kantelberg is die religieuse hoof van die Kerk van Engeland en die simboliese hoof van Anglikaanse kerke oor die hele wêreld. Hy is die regstreekse opvolger van die eerste aartsbiskop, Augustinus van Kantelberg. Die aartsbiskop word deur die Engelse monarg onder leiding van senior biskope, in samewerking met die eerste minister van die Verenigde Koninkryk, gekies.
Die amp, Aartsbiskop van Kantelberg, is in die jaar 597 ingevoer. In daardie jaar het St. Augustinus in Engeland, in die gebied genaamd Kent, gearriveer. Hy is deur die pous gestuur om die plaaslike bevolking tot die Christendom te bekeer. Toe hul koning (Æthelberht van Kent) 'n Christen word, het die mense hom en die Christendom aanvaar. Augustinus was die eerste biskop in die koninkryk van Kent en is later as aartsbiskop erken toe 'n tweede bisdom geskep is. Sedertdien is daar 'n aartsbiskop by Canterbury (Kantelberg) in Kent.
Die aartsbiskop van Kantelberg was aanvanklik ook die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk in Engeland, maar in die 16de eeu het die Engelse Kerk van die Roomse Kerk weggebreek. Die nuwe kerk is die Kerk van Engeland genoem en die aartsbiskop is sedertdien die leier van die kerk.
Justin Welby dien sedert 21 Maart 2013 as die 105de aartsbiskop.
| afr_Latn_107 |
Gereformeerde kerk Eloffsdal
Die Gereformeerde kerk Eloffsdal is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) noord van Pretoria se middestad.
Dit was einde 2014 een van die kleinste Gereformeerde kerke in Pretoria met 118 belydende en 29 dooplidmate, vergeleke met onderskeidelik 165 en 35 einde 2001, maar einde 2015 was dit onderskeidelik 130 en 31. Die kerkgebou is geleë by Mancelaan 760, Mayville. Behalwe dié woonbuurt, beslaan die gemeente ook die woonbuurt waaraan hy sy naam ontleen (Eloffsdal), gedeeltes van Gezina en Wonderboom-Suid en Les Marais. Dis net noord van die woonbuurt Capital Park, wat binne die Gereformeerde kerk Pretoria se grense val.
Eloffsdal het in Oktober 1973 van die gemeentes Eloffsdal-Wonderboom-Suid (waarvan die naam toe Pretoria-Wonderboom-Suid geword het) en Bergsig afgestig. (Nadat Eloffsdal se stigtingsdatum jare lank in die GKSA se Almanak as 1973 aangedui is en Pretoria-Wonderboom-Suid s'n as 1943, is dit in vroeg in die 21ste eeu verander sodat albei se stigtingsdatum van toe af 1943 aangedui word.) Aanvanklik is dienste in die Laerskole Eloffsdal en Boerefort se saal gehou. Later is 'n erf in die woonbuurt Roseville gekoop, maar voor beplanning aan bouwerk nog begin het, het die leraar, ds. P.C. Buys, met die plaaslike AGS-pastoor oor 'n ruiltransaksie begin onderhandel. Albei kerkrade het dit goedgekeur dat Eloffsdal sy erf plus R48 000 ruil vir die AGS se kerkgebou in Mansfieldlaan en 'n pastorie. Die gemeente het die kerkgebou skaars sewe jaar gebruik toe die stadsraad die gemeente se eiendom uitkoop sodat Mansfieldlaand heelwat verbreed kon word ter wille van beter verkeersvloei. Met die ruim vergoeding wat hulle ontvang het, kon die kerkraad 'n nuwe gebou in Mancelaan, een blok oos van die bestaande gebou, oprig.
Die erf waarop die nuwe kerk gebou is, het aan 'n lidmaat, ene Kuyper, behoort wat 'n kluisenaarsbestaan gevoer het. Ná sy dood het die kerkraad die grond aangekoop. Nadat die eerste kerk ontruim moes word, is dienste intussen in die Laerskool Mayville gehou. Die argitekte Paul du Plessis en Van Wyk, wat gevra is om die plan op te stel, het voorgestel dat die gemeente sy kerk bou volgens 'n gewysigde plan van die NG gemeente Wierdapark, wat pas voltooi is.
Ds. B.C. Smit het die eerste sooi op 25 November 1989 gespit en ook die hoeksteen op 23 Februarie 1991 onthul. Die gemeente het as eienaarbouer op getree onder leiding van oudl. J. Briel. Talle ander lidmate het ook bydraes gelewer, byvoorbeeld oudl. T. Sauer wat banke bekom het van die NG gemeente Petronella. Die nuwe kerk is gebou van donker ongepleisterde baksteen en het 'n betreklik laer plafon en plat dakstruktuur. Dit het nie 'n toring of klok nie. Die vensters is horisontaal op grondvlak en teen die plafon geplaas. Die kerk bied sitplek aan 450 kerkgangers, maar aangesien skuifdeure die kerk aan die saal verbind, kan nog 150 sitplekke voorsien word deur die deure oop te skuif.
| afr_Latn_108 |
Gereformeerde kerk Innesdal
Die Gereformeerde kerk Innesdal was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) noord van Pretoria se middestad. Dit het die woonbuurte Deerness, Jakarandapark, Riefontein en Villieria ingesluit.
| afr_Latn_109 |
Gereformeerde kerk Kameeldrift
Die Gereformeerde kerk Kameeldrift is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die noordooste van Pretoria in die omgewing van die Roodeplaatdam. Dit sluit die gelyknamige en omliggende landbouhoewegebiede in asook woonbuurte soos Montanapark en Montana-Tuine.
Die Gereformeerde kerk Kameeldrift is op Saterdag 25 September 1976 om drieuur in die kerkgebou van die moedergemeente, Derdepoort, afgestig. Daar was 211 belydende lidmate en 137 dooplidmate. Met afstigting het die gemeente 'n hoewe van sowat 3 hektaar van Derdepoort ontvang waarop die kerkgebou in 1982 opgerig is. Dié grond was eens 'n mielieland tussen die kleinhoewes noordoos van Pretoria. Gedurende die eerste jaar ná afstigting het Kameeldrift ook 'n bruidskat van R8 000 van Derdepoort ontvang. Die gemeente het onmiddellik begin om 'n tuin uit te lê en 'n groot aantal inheemse bome is geplant. Heelwat later, tydens die gemeente se 15-jarige feesviering, is 'n aantal Bybelse bome geplant wat in Suid-Afrika aard.
Eredienste is aanvanklik gehou in die skoolsaal van die Hoërskool F.H. Odendaal. Jan Pretorius was die argitek van die gemeente se eie kerkgebou en die bouaannemer was Hans van der Laan, wat tot minstens 2010 nog lidmaat van die gemeente was. Ds. C.J.H. Breed was voorsitter van die boukommissie. Tydens die bouery is afgekom op 'n ondeurdringbare klipbank waar die diep fondament moes wees. Ook het die hyskraan wat die sentrale dakbalk van staal moes ophys, 'n fout begaan en die hele westelike muur omgestamp. Voorts is die bouwerk aan die kerk onderbreek toe 'n pastorie dringend op die terrein gebou moes word. Albei geboue is in dieselfde jaar voltooi.
Met die jare het die gemeente die kerkperseel verder verbeter: 'n grasdaklapa is by die nuwe swembad gebou, maar dit het afgebrand en is deur 'n grotere vervang. Die tweede lapa het ook gebrand, maar is net herbou. Die pastorie is vergroot en vernuwe nadat die kombuis uitgebrand het. Die gemeente het ook 'n stuk grond langs die kerkperseel aangekoop, waar hulle 'n meerdoelige gemeentesentrum wil oprig.
Die kerkraad het destyds met die beplanning van die kerkgebou voorsien dat die gemeente sou groei; daarom is die kerk heelwat groter as wat destyds nodig was. Ten spyte van sterk groei in die beginjare het die sieletal tussen 2011 en 2014 teruggesak van 658 tot 439, vergeleke met 510 drie jaar vantevore. In 2017 was dit 401.
| afr_Latn_110 |
Gereformeerde kerk Meyerspark
Die Gereformeerde kerk Meyerspark is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die ooste van Pretoria. Dit sluit, benewens die woonbuurt waaraan die naam ontleen is, ook Die Wilgers, Donkerhoek, Equestria, Boschkop, La Montagne, Lynnwoodrif, Murrayfield, Willow Glen en Silverton uitbr. 10 in.
Die gemeente het op 1 Augustus 1971 van die Gereformeerde kerk Silverton afgestig. Destyds was dit 'n jeugdige gemeente waarvan die gemiddelde ouderdom van sy belydende lidmate in Oktober 1972 net 28 jaar was. So het daar 'n hegte band tussen 'n kerngroep lidmate ontstaan. Die lidmate het dan ook mettertyd ál ouer en die dooplidmate ál minder geword: Einde 1997 was die sieletal 1 006 van wie amper 20 persent dooplidmate was; einde 2001 was die sieletal 789, van wie die dooplidmate amper 17 persent was, maar tot einde 2014 het die sieletal afgeneem tot 443, van wie die dooplidmate net 9,5 persent was. Die lidmaattal het trouens al omstreeks 1990 op sowat duisend 'n hoogtepunt bereik en daarna algaande verminder.
Op 'n kerkraadsvergadering op 19 September 1973 is besluit om 'n kerk-en-saal-kompleks vir die gemeente op te rig. 'n Lidmaat, Renier Roos, is as argitek aangewys. Weens die resessie van destyds kon die gemeente eers nie 'n verbandlening kry nie en het hulle besluit dat die kerkraad as eienaarbouer sou optree. Aanvanklik is die koste op R135 000 (sonder professionele fooie) geraam, maar dit het eindelik amper verdubbel tot R240 000.
Die susters van die gemeente het die orrel afbetaal deur middel van koek- en kosverkopings, terwyl J.V. Juventus geld vir die preekstoel ingesamel het. Die kerkgebou is op 22 Mei 1976 plegtig in gebruik geneem. Die kompleks bestaan uit 'n kerkgebou en saal, skakel met 'n moederskamer en die kombuis. Al die vensters kyk uit op 'n binnehof wat met 'n groot glasdeur verbind word met die saal. Dr. C.H. Venter het 'n gedenkplaat in die kerkgebou se voorportaal onthul.
| afr_Latn_111 |
Gereformeerde kerk Oos-Moot
Die Gereformeerde kerk Oos-Moot is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) noordoos van die Pretoriase middestad in, soos die naam aandui, die ooste van die Moot-gebied. Binne die gemeentegrense val woonbuurte soos Môregloed, Queensqwood X2, Rietfontein en Villieria. Die kerkgebou is geleë by 31ste Laan 716, Villieria, net 'n hanetree van die Gereformeerde kerk Totiusdal se kerkgebou op die hoek van Spioenkopstraat en Starkeylaan, Waverley.
Die Gereformeerde kerk Oos-Moot het op 30 Julie 1966 afgestig uit die westelike wyke van die Gereformeerde kerk Totiusdal en die oostelike wyke van die Eloffsdal-Wonderboom-Suid. Die totale bruidskat van R3 500 en 'n skenking van nog R1 000 het dit aan die begin onmoontlik gemaak om aan kerkbou te dink. Eers sowat 'n jaar ná afstigting, in Junie 1967, het die kerkraad ná lang onderhandelinge met die stadsraad besluit om grond in Villieria te koop. Dit was groot genoeg sodat 'n kerkgebou en 'n pastorie daarop gebou kon word. Dié grond het, in die lig van die skenking, die reusebedrag van R10 800 gekos.
Die eerste stap was om 'n pastorie te bou. Einde 1970 kon die gemeente se tweede leraar, ds. A.Z. Pelser, die ruim en doeltreffende pastorie betrek waarvan 'n lidmaat, H. Audi, die plan opgestel het. Van toe af kon die kerkraadsvergaderings darem in die gemeente gehou word en wel in die pastorie se motorhuis nadat die raad vantevore in Totiusdal se konsistorie byeen moes kom.
Met kerkbou het dit minder flink gegaan. In September 1967 het die kerkraad T. den Boer gevra om die plan op te stel, maar nadat onderhandelinge met hom skipbreuk gely het, is kerkbou op die lange baan geskuif. Sowat drie jaar later het die argitek Johan de Ridder, 'n lidmaat van die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside, 'n plan vir 'n A-raam-gebou voorgestel. Dié vorm is kenmerkend van heelparty Gereformeerde kerke in Pretoria, waarvan De Ridder nagenoeg sewe ontwerp het, hoewel party 'n A-vorm het en ander variasies op die tentstyl is.
Die kerkraad het die bouplan goedgekeur en kort daarna kon die bouwerk begin. Die totale koste was R93 000. Die susters van die gemeente het deur geldinsameling vir die orrel en matte betaal en die ruim konsistorie met 'n aangrensende kombuis diens steeds as kerksaal. Eers is net drie katkisasielokale langs die kerk opgerig, maar nadat die Pres. Kruger-kinderhuis ('n instelling van die Gereformeerde Kerk) na 'n stuk grond reg langs die kerk verskuif is, is nog vier van dié lokale aangebou.
Ds. A.Z. Pelser het 'n gedenkplaat in die voorportaal van die kerk op 16 Oktober 1971 onthul en op 27 Mei 1972 het De Ridder 'n spesiale sleutel, wat vandag nog in die konsistorie, aan die bouer, broer H.A.G. Kapp, oorhandig, tydens die ingebruikneming van die kerk.
Oos-Moot het einde 2014 361 belydende en 94 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 349 en 113 einde 1997, 'n opmerklike uitsondering op die reël van Gereformeerde gemeentes wat algaande kleiner word, veral in gevestigde buurte. Teen 2023 het die belydende lidmate 410 getel en die dooplidmate 92, 'n sieletal van 502, die tweede meeste in die klassis naas Totiusdal se 510.
Die kerkgebou is in dieselfde staat as die President Kruger-kinderhuis geleë. Hul inwoners skakel by Oos-Moot in.
| afr_Latn_112 |
Koninklike Australiese Lugmag
Die Koninklike Australiese Lugmag, amptelik die Royal Australian Air Force (afgekort RAAF), gevorm in Maart 1921, is die luggevegstak van die Australiese Weermag. Dit hou die eer as die tweede oudste lugmag ter wêreld, wat as die Australian Flying Corps (AFC) gevorm is op 22 Oktober 1912. Die RAAF bied ondersteuning oor 'n spektrum van bedrywighede soos lugsuperioriteit, presisieslaankrag, intelligensie, toesig en verkenning, lugmobiliteit en humanitêre ondersteuning.
Die RAAF het aan meeste van die groot konflikte van die 20ste eeu deelgeneem. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het 'n aantal RAAF-bomwerpers, vegters, verkennings- en ander eskaders aanvanklik in Brittanje gedien, en/of die Desert Air Force geleë in Noord-Afrika en die Middellandse See, terwyl die meerderheid later hoofsaaklik ontplooi is in die Suidwes-Stille Oseaangebied.
Duisende Australiërs het ook in ander Statebondslugmagte in Europa gedien. Teen die einde van die oorlog was 'n totaal van 216 900 mans en vroue in diens van die RAAF, van wie 10 562 tydens aksie gesneuwel het.
| afr_Latn_113 |
Gereformeerde kerk Totiusdal
__NOTOC__
Die Gereformeerde kerk Totiusdal is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die ooste van Pretoria se Moot-gebied. Dit sluit die woongebiede Queenswood en Waverley (waar die kerkgebou geleë is) in. Van belang vir die Gereformeerde Kerk is dat die Gereformeerde Skool Dirk Postma ook binne die gemeentegrense val.
Totiusdal het op 20 Oktober 1957 van die destydse Eloffsdal-Wonderboom-Suid (later Pretoria-Wonderboom-Suid genoem) afgestig. So vinnig was die vermeerdering van Gereformeerdes in dié omgewing destyds dat die Gereformeerde kerk Oos-Moot op 30 Julie 1966 kon afstig uit die westelike wyke van Totiusdal en die oostelike wyke van Eloffsdal-Wonderboom-Suid. Aanvanklik het Totiusdal eredienste gehou in die Hoërskool Oos-Moot se saal. 'n Eie kerkgebou is beplan op grond wat behoort het aan ds. S.J. du Toit, die vader van Totius. Daarom is besluit om die gemeente Totiusdal te noem.
In 1958 besluit die gemeente om 'n kerkgebou op te rig met Johan de Ridder, 'n lidmaat van die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside, as argitek. Hulle het gevra dat die gebou 'n gevoel van ruimte gee; 'n mens moes kon wegkyk die hoogtes in. Die gebou moes 'n sfeer hê met argitektoniese skoonheid. Ten einde die boukoste te bestry, het sen. Jan de Klerk, vader van die latere pres. F.W. de Klerk en self 'n seun van Dopperpredikant, ds. W.J. de Klerk, 'n lening by Avbob beding.
Die hoeksteen is op 13 Junie 1959, die GKSA se eeufeesjaar, gelê en die gebou is op 6 Desember 1959 in gebruik geneem. Die gebou het 'n leiklipdak wat steil na agter boontoe styg (die teenoorgestelde kant van die preekstoel), so tipies van De Ridder se kappiekerke of tentstyl. By die ingebruikneming van die kerk het mev. Maria (Marie) du Toit, n dogter van ds. Dirk Postma en eggenote van Totius, 'n seringboom geplant as simbool van die stigting van die Gereformeerde Kerk, 'n eeu vantevore onder 'n seringboom op Rustenburg, deur haar vader. Sy het ook die Kanselbybel geskenk.
Totiusdal se kerkgebou is die enigste in Pretoria met 'n klokkespel (kariljon) wat op bepaalde tye Psalm-melodieë speel.
Totiusdal het einde 1997 361 belydende en 118 dooplidmate gehad, maar einde 2014 onderskeidelik 303 en 80, 'n geringe afname vergeleke met baie Gereformeerde kerke elders in die land. 'n Jaar later het dit toegeneem tot onderskeidelik 329 en 85, 'n toename in die sieletal van 31, terwyl die Klassis Pretoria-Moot se sieletal met 97 afgeneem het.
| afr_Latn_114 |
Kain en Abel
Kain (Hebreeus: קַיִן, Qayin) en Abel (Hebreeus: הֶבֶל, Hevel) is twee figure wat in die Tanakh, die Bybel en in die Koran beskryf word. Hulle was die twee oudste seuns van Adam en Eva. Die verhaal is in die Ou Testament in die boek van Genesis opgeteken.
Kain was 'n saaiboer en sy jonger broer, Abel, 'n veeboer. Kain was die eerste mens wat gebore is en Abel was die eerste mens wat gesterf het. Kain het die eerste moord gepleeg deur Abel dood te slaan. Daar word algemeen aanvaar dat die motiewe hiervoor jaloesie en woede was.
| afr_Latn_115 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Wonderboom-Suid
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Wonderboom-Suid is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) direk noord van die Pretoriase middestad in die Moot-gebied. Dit sluit gedeeltes van die woongebiede Wonderboom-Suid, Rietfontein en Gezina in.
Die gemeente is in 1943 gestig as die Gereformeerde kerk Eloffsdal. Aan die begin is eredienste gehou in die kerksaal van die NG gemeente Eloffsdal, die Wesleyaanse kerkgebou en aan huis van die gesin Wiegers, tot 'n kerksaal in Mayville gebou is. In 1949 besluit die kerkraad om 'n kerkgebou op te rig in Wonderboom-Suid. Die plan is opgestel deur ene Semeyn en die bouaannemer was H.A.G. Kapp, 'n Gereformeerde lidmaat, wat onder ds. H.F.V. Kruger se toesig sou werk. Lidmate van alle ouderdomme sou met die bouwerk help. Ds. Kruger het die hoeksteen op 18 Februarie 1950 gelê. Piet Pelser het die preekstoel gemaak.
Ds. Kruger het gevra dat die ouderling- en diakenbanke agter die preekstoel geplaas word sodat die ouderlinge en die diakens "toesig oor die predikant en gemeente kon hou". Dié galerye sit skuins weerskante van die preekstoel en die orrelpype. Die verloop van die bouwerk aan die kerkgebou is op film vasgelê. Die kerktoring is 27,5 m hoog en het 'n klok wat uit Nederland ingevoer is.
Omdat die kerkgebou nou in Wonderboom-Suid en nie in Eloffsdal was nie, hê die gemeente besluit om sy naam te verander na Eloffsdal-Wonderboom-Suid. In 1973 is die gemeentenaam nog 'n maal verander nadat Eloffsdal afgestig het en sedertdien is dit Pretoria-Wonderboom-Suid. Dekades daarna is Pretoria-Wonderboom-Suid se stigtingsdatum in die GKSA se Almanak as 1943 aangegee en Eloffsdal s'n as 1973, maar vroeg in die 21ste eeu is dit verander sodat albei nou in 1943 gestig is.
| afr_Latn_116 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Rooiwal
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Rooiwal is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die kleinhoewegebiede noord van Pretoria en suid van Hammanskraal. Die gebiede binne die gemeentegrense sluit Haakdoring, Haakdoringboom, Hammanskraal, die hoewes noord van Bon Accord en Onderstepoort in.
Die gemeente het in 1972 afgestig van die Gereformeerde kerk Wonderboompoort, wat in 1960 gestig is en wie se kerkgebou geleë is by Genl. Beyersstraat 256, Pretoria-Noord. Die nuwe gemeente het aanvanklik sy eredienste en byeenkomste in die saal van die Laerskool Uniefees op Rooiwal, noord van Pretoria, gehou. In 1977 het die gemeente 10 morg grond aangekoop waarop hulle 'n kerk wou oprig. Dié gebou is dan ook op 19 en 20 Februarie 1983 in gebruik geneem. Die kerkraad van die Gereformeerde kerk Piet Retief het die klok van die ontbinde Gereformeerde kerk Stegi (Bremersdorp, eSwatini, 1926–1965) aan Rooiwal geskenk. Vir dié klok het Ben Nel van Witbank 'n staalkonstruksie ontwerp en aan die kerk geskenk.
| afr_Latn_117 |
Adam (dubbelsinnig)
Adam, die eerste mens op aarde. Adam, 'n Afrikaanse musiekgroep. Adam is ook die naam van verskeie ander mense, soos Adam Tas, Adam Small en Adam Smith.
| afr_Latn_118 |
Eva (dubbelsinnig)
Eva, die eerste vrou op aarde. EVA is 'n afkorting vir die Europese Vryhandelsassosiasie. Eva is ook die naam van verskeie ander mense, soos Eva Perón, Eva Krotoa en Eva Braun.
| afr_Latn_119 |
Gereformeerde Skool Dirk Postma
Die Gereformeerde Skool Dirk Postma is 'n gekombineerde Afrikaansmedium-skool in Waverley, Pretoria.
Die skool het in 1989 begin as 'n laerskool. Dis genoem na ds. Dirk Postma, die grondlegger van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. In samewerking met ander skole is 'n eie, gereformeerde leerplan ontwikkel. Daarna is die kleuterskool begin om as voedingsbron vir die laerskool te dien. Vandat die hoërskool in 1998 tot stand gekom het, was daar nog nie 'n enkele matriekdruipeling nie.
Die skool het in 2013 'n nuwe skoolgebou in gebruik geneem. Die laer- en hoërskool is van toe af geleë by Cunninghamlaan 1182, Waverley, naasaan die Gereformeerde kerk Die Kandelaar, en die kleuterskool by Dickensonlaan 1174, in dieselfde woonbuurt. Die laer- en hoërskool deel 'n perseel met die Gereformeerde kerk Die Kandelaar.
Die skool gebruik breedweg die leerplanraamwerk van die onderwysdepartement ten opsigte van temas en uitkomste, maar temas word aangevul met eie temas en inhoude word reformatories ingevul. Aan die einde van die skoolloopbaan skryf leerders die eksamen van die departement van onderwys en die skool reik ook 'n Arso-serftifikaat uit, wat sertifiseer dat die leerder 'n gereformeerde skoolloopbaan gevolg het.
Ds. Hannes Noëth was die skoolhoof tot einde Oktober 2017 toe hy 'n betrekking by die Soldariteit-beweging aanvaar het. Hy was terselfdertyd medeleraar van die Gereformeerde kerk Totiusdal, binne wie se gemeentegrense die skool geleë is.
'n Nuutjie in 2016 was dat die Sentrum vir Taalontwikkeling in samewerking met die skool Chinese lesse vir beginners begin aanbied het. Die doel is om kinders en volwassenes basiese gespreksvaardighede in Chinees aan te leer. Die lesmateriaal word deur die Confucius-instituut verskaf en lesse word in samewerking met die Chinese Culture and International Education Exchange Centre uitgewerk.
| afr_Latn_120 |
Keiserryk Ethiopië
As keiserryk was dit een van die oudste selfstandige lande ter wêreld. Dit is tydens 'n groot deel van sy geskiedenis omring deur vyandelike magte in die Horing van Afrika, maar het daarin geslaag om sy antieke, Christelikgebaseerde vorm van 'n koninkryk te bewaar en ontwikkel. Dit was ook een van slegs twee lande in Afrika wat die Wedloop om Afrika kon weerstaan en hul onafhanklikheid behou het toe al die ander gebiede in die 19de eeu gekoloniseer is.
Teen 1974 was Ethiopië net een van drie lande wêreldwyd wat nog die titel keiser vir sy staatshoof gebruik het, saam met Japan en Iran onder die Pahlavi-dinastie. Dit was die tweede laaste land in Afrika met die titel keiser, want ná hom is die Sentraal-Afrikaanse Keiserryk vir 'n kort rukkie (1976-1979) gestig onder keiser Bokassa I.
| afr_Latn_121 |
Africana
Africana is antikwariese artikels wat afkomstig is uit of betrekking het op Afrika. Hierdie voorwerpe is dikwels van groot waarde veral omdat hulle van historiese belang is en versamelaars bereid is om hoë pryse daarvoor te betaal.
| afr_Latn_122 |
Gereformeerde kerk Port Elizabeth
Die Gereformeerde kerk Port Elizabeth is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk in die Oos-Kaapse hawestad Port Elizabeth (nou Gqeberha).
| afr_Latn_123 |
Dorchester, Dorset
Dorchester [ˈdɔrtʃɛstər] is die administratiewe setel of county town van die Suidwes-Engelse graafskap Dorset met 'n bevolking van 19 060 volgens die sensus van 2011.
Die dorp, wat tussen Poole en Bridport langs die A35-snelweg geleë is, is oorspronklik in die 1ste eeu n.C. as die Romeinse nedersetting Durnovaria langs die pad tussen Londinium (Londen) en Isca Dumnoniorum (Exeter) gestig en was later 'n belangrike markdorp.
As die woonplek van en inspirasie vir die Engelse digter Thomas Hardy het Dorchester nuwe literêre betekenis as die hart van Hardy Country gekry, die gebied waar baie van Hardy se 19de eeuse verhale en romans afspeel, waaronder The Mayor of Casterbridge, een van die vernaamste prosawerke in die laat 19de eeuse Engelse literatuur.
| afr_Latn_124 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin
Die Gereformeerde Kerk Pretoria-Annlin is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), geleë in die noorde van Pretoria. Die gemeente se bedieningsgebied lê hoofsaaklik noord van die Magaliesbergreeks met die Apiesrivier as westelike grens. Die oostelike grens val saam met die oostelike grens van die voorstad Wonderboom, maar dan word ook voorstede verder noord soos Sinoville en Doornpoort ingesluit. Daar is ook 'n groot aantal mense wat buite hierdie gebied woon en wat uit vrye wil lidmate van die gemeente wil wees.
| afr_Latn_125 |
Bloomsbury
Bloomsbury is 'n buurt in die Londense administratiewe distrik Borough of Camden wat in die 17de en 18de eeu deur die Russell-familie (met die hertog van Bedford as sy bekendste lid) tot 'n gesogte woongebied ontwikkel is.
Bloomsbury, wat tussen Euston Road en Holborn in westelike Sentraal-Londen geleë is, staan veral bekend vir sy tuinpleine of garden squares, sy verbintenisse met die Engelse literatuur (waaronder die befaamde Bloomsbury-groep, 'n invloedryke kring van skrywers, intellektueles, filosowe en kunstenaars) en die verskeidenheid kulturele, opvoedkundige en geneeskundige instellings wat hier gesetel is. Alhoewel Bloomsbury nie die eerste Londense buurt was waar 'n formele plein aangelê is nie, was Bloomsbury-plein (Bloomsbury Square), wat in 1660 deur Thomas Wriothesley, 4de graaf van Southampton as Southampton Square aangelê is, nogtans die eerste plein of square waarna as sulks verwys is.
Naas sy Georgiaanse boukuns en tuinkultuur roep Bloomsbury as die setel van die befaamde Britse Museum en die Universiteit van Londen se Bloomsbury-kampus met altesaam 180 geboue by Londenaars ook die konnotasie van 'n sentrum van geleerdheid op.
| afr_Latn_126 |
Camden Town
Camden Town, dikwels kort Camden genoem, is 'n buurt in Sentraal-Londen en die naamgewende stadsdeel vir die London Borough of Camden, een van die administratiewe distrikte van Groter Londen. Die buurt, wat sowat vier kilometer noord van Charing Cross in die Londense middestad geleë is en in die suide aan een van die Britse hoofstad se uitgestrekte groen ruimtes, Regent's Park, grens, het oorspronklik deel uitgemaak van die Kentish Town-landgoed en die Londense St Pancras-parogie.
Tot in die laat 18de eeu was die gebied nog oorwegend landelik, met verspreide plase, velde en oop land noord van Tottenham Court. Twee kroeë, Mother Red Cap (tans World's End) en Southampton (tans Edwards), het as oornagplekke vir koetspassasiers gedien in 'n gebied wat destyds deur padrowers, die sogenaamde highwaymen, geteister is. In 1791 was Charles Pratt, graaf van Camden, die eerste van 'n groep welvarende Londenaars wat by die ontwikkeling van dié gebied betrokke was en Camden Town in 1791 as 'n residensiële buurt aangelê het. Die eerste beboude erwe was oos van Camden High Street geleë.
Teen die middel van die 19de eeu is Camden Town deur die snelgroeiende Londense stadsgebied verswelg. Die nabyheid van die Regent's Canal, een van die belangrikste waterweë binne Londen se netwerk van kanale, en die bou van 'n spoorlyn (Camden Town-stasie is in 1850 geopen), het die industriële ontwikkeling van Camden bevorder. Die bou van kanale en spoorweë het ook die eerste Ierse migrante na die gebied gelok, veral gedurende die hongersnood wat Ierland in die 1840's geteister het.
Weens sy belangrikheid as spoorwegsentrum was Camden een van die teikens van Duitse lugaanvalle op Londen tydens die Tweede Wêreldoorlog, die sogenaamde Blitz. Met sy heropbou ná 1945 het Camden Town 'n meer kosmopolitiese karakter gekry, aanvanklik deur die vestiging van groter getalle Griekse en Sipriotiese immigrante, later Bangladesjis. Nywerhede as aanvanklike ekonomiese basis is lankal vervang deur handel, toerisme en die vermaaklikheidsbedryf. Die buurt word vandag verbind met sy kleurryke straatmarkte, musiekplekke en alternatiewe leefstyle en is 'n gewilde trekpleister vir jong Londenaars en toeriste.
| afr_Latn_127 |
IThemba LABS
iThemba LABS (iThemba is Xhosa vir hoop; LABS is 'n akroniem vir Laboratory for Accelerator Based Sciences) is 'n wetenskaplike navorsingsentrum met aanlegte by Faure naby Kaapstad en op die Wits-kampus in Johannesburg. Die organisasie het in die verlede bekendgestaan as die Nasionale Versnellersentrum, en spesialiseer in die gebruik van partikelversnellers. Die hoofnavorsingsrigtings behels die produksie van mediese radioïsotope vir die behandeling van kanker, materiaalwetenskappe, kernfiska-eksperimente, ontwikkeling van nuwe versnellertegnologie en die intydse behandeling van kankerpasiente deur middel van proton- en neutronterapie.
| afr_Latn_128 |
Elektronbundel Ioonbron
'n Elektronbundel Ioonbron (Engels: Electron beam ion source/trap of EBIS) is 'n toestel wat 'n hoëenergie elektronbundel gebruik om atome te ioniseer en hul ladingstoestande tot baie hoë waardes te vergroot. Die masjien gebruik magnetiese en elektriese velde om die ione vas te keer en bombardeer hulle dan met 'n straal hoëenergie elektrone. Die vinnige elektrone bots met die ione en kan van die ioon se elektrone uit hul wentelbane uitslaan, wat die ioon tot 'n hoër positiewe ladingstoestand verhef. Elektronbundel ioonbronne kan uitsonderlike hoë ladingstoestande behaal en in sommige gevalle al die elektrone van 'n atoom verwyder. Dit kan selfs vir swaar atome soos Uraan gedoen word. Die elektronbundel ioonbron is deur M. Levine en R. Marrs by Lawrence Berkeley National Laboratory ontwikkel.
| afr_Latn_129 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Noord
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Noord is die vierde oudste bestaande gemeente van die Gereformeerde Kerk in Pretoria. Einde 2015 het die gemeente 261 belydende (298 einde 2014) en 35 dooplidmate (44 einde 2014) gehad, vergeleke met 395 en 104 einde 2001.
| afr_Latn_130 |
Regent's Canal
Regent's Canal is 'n kanaal met 'n lengte van 13,8 km en dertien sluise wat deur 'n gebied net noord van Sentraal-Londen - deur Regent's Park, Camden, Islington en Mile End - loop. Die waterweg verbind die Paddington-arm van die Grand Union Canal net noordwes van die Paddington-bekken by Little Venice in die weste met die Limehouse-bekken en die Teemsrivier in die ooste van Londen.
In sy ontstaanstyd in die vroeë 19de eeu en die volgende dekades het die kanaal deel uitgemaak van 'n uitgebreide netwerk van waterweë wat nuut geïndustrialiseerde streke in die noorde van Engeland met die hoofstad in die suide verbind het. Tot in die sestigerjare van die 20ste eeu is goedere soos landbouprodukte, steenkool en boumateriale uit die noorde op die Regent's Canal na Londen vervoer, dikwels om hulle vanuit Oos-Londen se dokke na buitelandse bestemmings te verskeep.
Vandag speel die kanaal geen rol meer as kommersiële waterweg nie, maar dit word steeds vir ontspanningsdoeleindes onderhou, net soos die ou trekpaaie langs sy oewers wat tans as rustige fiets-, wandel- en drafroetes temidde van die woelige Hoofstadlewe dien en waarlangs bankies aangebring is.
| afr_Latn_131 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Alkantrant
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Alkantrant is die vierde jongste van die 11 gemeentes in die Gereformeerde Kerk se Klassis Oostelike Pretoria. In dié klassis was dit einde 2014 die derde grootste gemeente met 462 belydende en 91 dooplidmate, vergeleke met 681 en 132 einde 2001. Die sieletal het dus binne die eerste 13 jaar van die 21ste eeu met amper 'n derde afgeneem.
Die gegoede voorstede en woonbuurte binne die gemeente se grense is onder meer Alphen Park, Ashlea Gardens, Constantiapark, Faerie Glen (sonder sy uitbreidings), Hazelwood, Lynnwood Glen, Lynnwood Park, Menlyn, Newlands en Waterkloof Glen.
Pretoria-Alkantrant het op 3 November 1974 uit die oostelike wyke van die Gereformeerde kerk Pretoria-Brooklyn afgestig. As bruidskat het die nuwe gemeente twee erwe in die woonbuurt Ashlea Gardens ontvang wat geskenk is deur Harm Oost en die familie Koelman. Oudl. Koelman was juis die eerste lidmaat wat uit die kerk begrawe is en die straat waarin die kerk opgerig is, is dan ook na hom genoem. Eers is eredienste in skoolsale gehou en in April 1978 het die kerkraad 'n tender vir die oprigting van die kerk aanvaar.
Daar was geen sprake van simboliek in die plan, wat ontwerp is deur die firma Hartman, Van der Walt en Vermooten, nie. Dit bied sitplek aan sowat 500 kerkgangers, maar wanneer die konsistorie se skuifdeure oopgemaak word, is daar plek vir nog 80. Daar was voorheen 'n skaapkraal op wat die kerkperseel geword het, iets wat voordelig was vir die ontwikkeling van die tuin.
Ds. A. Le R. du Plooy het die kerkgebou se hoeksteen op 23 September 1978 gelê en sewe maande later kon die gebou in gebruik geneem word. Ná aanbouing kon die vergrote saal-konsistorie-kompleks op 30 Junie 1991 ingewy word.
| afr_Latn_132 |
Sinoville
Sinoville is 'n voorstad in Pretoria. Dit is 8 km noordoos van Pretoria se middestad geleë en sluit die noordelike hange van die Magaliesberg en 'n deeltjie van die kruin in. Die voorstad is na die bekende Sinovich-familie vernoem en beskik ook oor verskeie goeie winkelsentrums.
| afr_Latn_133 |
Lynnwoodrif
Lynnwoodrif is 'n voorstad in die ooste van Pretoria, Suid-Afrika. Dit is tussen die woonbuurte Lynnwood Manor, Murrayfield en Die Wilgers geleë.
| afr_Latn_134 |
Lynnwood Park
Lynnwood Park is 'n klein voorstad in die ooste van Pretoria, Suid-Afrika. Dit is tussen Lynnwood Glen en Faerie Glen geleë.
Die ingang na die Faerie Glen-natuurreservaat, met sy vele staproetes, lê direk noord van Lynnwood Park.
| afr_Latn_135 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Magalieskruin
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Magalieskruin is die derde jongste van die agt gemeentes in die Gereformeerde Kerk (GKSA) se Klassis Trans-Magalies, wat die noordelike dele van die stad Pretoria beslaan. Dit was einde 2014 met 'n sieletal 528 die tweede grootste gemeente in die klassis, naas die Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin, van wie Pretoria-Magalieskruin op 28 Mei 1977 afgestig het.
Kort ná afstigting het die gemeente besluit om 'n kerkgebou op te rig en drie jaar later is die hoeksteen gelê. Die kerk is op 14 Februarie 1981 in gebruik geneem. Die argiteksfirma Hartman en Van der Walt het die plan opgestel en die bouaannemer was 'n lidmaat, Johan van Dyk, maar gemeentelede het baie van die werk self gedoen, byvoorbeeld die maak van die preekstoel, die groot skuifdeure en die tuin se uitleg. Die gebou bied sitplek aan 415 mense en, wanneer die skuifdeure tussen die kerk en saal oopgeskuif word, nog 300. Op die galery is plek vir nog 85 vir 'n totaal van 800. SA Orrelbouers het die orrel uit verskeie ander orrels opgebou.
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Montanapoort het op 30 Mei 1999 van Magalieskruin afgestig, maar die gemeentes het ooreengekom dat albei die Magalieskruin-kerkkompleks sou gebruik en dit gesamentlik en gelykop sou besit. Tans (2019) hou Magalieskruin hul eredienste om 10:00 en 19:00 en Montanapoort om 08:00 en 17:30. Elke jaar ruil die dienstye om.
Magalieskruin beslaan die woonbuurte of voorstede Magalieskruin, die weste van Montanapark en die suidooste van Sinoville. Voor die afstigting van Montanapoort het Magalieskruin 'n sieletal van 1 054 gehad. Einde 2001 was Magalieskruin se sieletal 467 en Montanapoort s'n 586 ('n totaal van 1 053). Einde 2014 was Magalieskruin se sieletal 528 en Montanapoort s'n 512 vir 'n totaal van 1 040.
| afr_Latn_136 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Montanapoort
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Montanapoort is die jongste van die agt gemeentes in die Gereformeerde Kerk se Klassis Trans-Magalies, wat die noordelike dele van die stad Pretoria beslaan. Dit was einde 2014 met 'n sieletal 512 die derde grootste gemeente in die klassis.
Pretoria-Montanapoort het op 30 Mei 1999 van die Gereformeerde kerk Pretoria-Magalieskruin afgestig, wat op sy beurt op 28 Mei 1977 van die Gereformeerde kerk Pretoria-Annlin afgestig het. Die gemeentes het ooreengekom dat albei die Magalieskruin-kerkkompleks sou gebruik en dit gelykop sou besit. Op die oomblik (2017) hou Magalieskruin hul eredienste om 10:00 en 19:00 en Montanapoort om 08:00 en 17:30.
Magalieskruin het kort ná afstigting besluit om 'n kerkgebou op te rig en drie jaar later is die hoeksteen gelê. Die kerk is op 14 Februarie 1981 in gebruik geneem. Die argiteksfirma Hartman en Van der Walt het die plan opgestel en die bouaannemer was 'n lidmaat, Johan van Dyk, maar gemeentelede het baie van die werk self gedoen, byvoorbeeld die maak van die preekstoel, die groot skuifdeure en die tuin se uitleg. Die gebou bied sitplek aan 415 mense en, wanneer die skuifdeure tussen die kerk en saal oopgeskuif word, nog 300. Op die galery is plek vir nog 85 vir 'n totaal van 800. SA Orrelbouers het die orrel uit verskeie ander orrels opgebou.
Montanapoort beslaan onder meer die woonbuurte Montana, Montana-kleinhoewes, 'n gedeelte van Sinoville en 'n gedeelte van Doornpoort. Voor die afstigting van Montanapoort het Magalieskruin 'n sieletal van 1 054 gehad. Einde 2001 was Magalieskruin se sieletal 467 en Montanapoort s'n 586 ('n totaal van 1 053). Einde 2014 was Magalieskruin se sieletal 528 en Montanapoort s'n 512, vir 'n totaal van 1 040.
| afr_Latn_137 |
Gereformeerde kerk Wonderboompoort
Die Gereformeerde kerk Wonderboompoort is die tweede oudste gemeente in die Gereformeerde Kerk se Klassis Trans-Magalies.Dit het vir die eerste drie jaar van sy bestaan as die Gereformeerde kerk Dirk Postma bekendgestaan.
| afr_Latn_138 |
Gereformeerde kerk Silverton
Die Gereformeerde kerk Silverton is die vierde oudste gemeente in die Gereformeerde Kerk se Klassis Oostelike Pretoria. Met 153 belydende en 40 dooplidmate was dit einde 2014 ook die kleinste van die oorwegend wit gemeentes in dié klassis wat uit 11 gemeentes bestaan.
| afr_Latn_139 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Meintjeskop
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Meintjeskop is die derde jongste gemeente in die Gereformeerde Kerk (GKSA) se Klassis Pretoria-Moot.
Dié gemeente, net noord van Meintjeskop en van die Uniegebou, is in April 1963 gestig. Anders as die NG gemeente Meintjeskop (1964), wat 'n baie beperkte geografiese gebied rondom Arcadia beslaan het en dan ook weens demografiese verskuiwings in die omgewing by Arcadia ingelyf is, sluit die Gereformeerde kerk Pretoria-Meintjeskop heelwat meer voorstede of buurte in: Riviera, Rietondale, Queenswood, Kilnerpark, en gedeeltes van Arcadia, Capital Park, Prinshof en Villieria. Ten spyte van dié betreklik groot gebied vir 'n stedelike gemeente het Pretoria-Meintjeskop in 2020 net 178 belydende en 31 dooplidmate gehad, vergeleke met 270 en 65 sowat 20 jaar tevore.
Aanvanklik is die gemeente se eredienste in die SA Vrouefederasie se Saamstaansaal gehou. Daarna was die skoolsaal van die Laerskool Riviera by Rosestraat 11 jaar lank die gemeente se kerkplek. Wes van die saal, aan Voortrekkersweg, staan vandag nog 'n mooi voorbeeld van die Art Deco-boustyl wat jare lank die tuiste van die Paul Kruger-kinderhuis was. Die Deputate Diakonale Sake, eienaar van die kinderhuis se eiendom, het toestemming verleen dat die gemeente 'n kerk op die grond mag bou, maar daar was min belangstelling.
Later is effens verder oos, in Rosestraat, twee erwe gekoop en die huise daarop gesloop. Hier het 'n interessante, ronde ontwerp met 'n koepeldak verrys. Die argitek was Cor Swart, 'n lidmaat van die gemeente wat in die omgewing grootgeword het. Die SA Orrelbouers-orrel is teenoor die preekstoel op die galery geplaas. Die kerk, met sy suiwer lyne en geverfde, gekurfde mure, toon ooreenkomste met Le Corbusier se Notre Dame du Haut. Die gemeente het as eienaarbouer opgetree terwyl die firma Knoessen en Gerber verantwoordelik was vir die uitdagende betonkonstruksie.
Dié kerkgebou, wat om die een of ander rede nie 'n hoeksteen gekry het nie, is in Mei 1975 in gebruik geneem. Dis net 'n straatblok of wat vanaf die NG kerk Riviera-Jakaranda. Die buurte waaruit die Gereformeerde kerk Meintjeskop bestaan, stem min of meer ooreen met dié van die Nederduitsch Hervormde Kerk se moedergemeente Pretoria.
| afr_Latn_140 |
Gereformeerde kerk Pretoria-Wes
Die Gereformeerde kerk Pretoria-Wes is die oudste gemeente in die Gereformeerde Kerk se Klassis Pretoria-Suidwes en die sewende wat in Pretoria gestig is. Vandat Pretoria-Oos, die tweede oudste gemeente, ontbind het, is Pretoria-Wes die sesde oudste bestaande gemeente.
Noordwes van die middestad is die Gereformeerde kerk Daspoort reeds in 1940 gestig, maar Pretoria-Wes het op 13 Mei 1945 die eerste gemeente in die weste van die stad geword toe dit van die Paul Kruger-kerk afstig. Ná nog afstigtings omsluit Pretoria-Wes nou (2015) die buurte of voorstede Erasmia, Danville, Florapark, Gerhardsville, Kwaggasrand, Pretoria-Wes, Proklamasieheuwel en Wespark. Al kom dié gebied groot voor, was die gemeente se sieletal einde 2014 net 179, vergeleke met 304 einde 2001.
Nog voor afstigting is gekyk na erwe in Erasmia, Danville en Wespark. Eindelik is twee erwe aangekoop teen die heuwel wat bekendstaan as Proklamasieheuwel omdat dit naby hier was dat die kamp van genl. lord Roberts tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog gestaan het en op die heuwel die proklamasie van die Engelse besetting van Pretoria uitgevaardig is.
Eers is eredienste in die Burgerright-skoolsaal met sy krakende houtvloer gehou. Op 23 November 1945 het die ses maande oue gemeente besluit om 'n kerk op te rig. 'n Lidmaat, M. van Essen, het die plan geteken. Geld was min in die naoorlogse tyd en eers in Mei 1947 is die besluit finaal geneem om te begin bou aan die kerk met sitplek vir 450 mense. Agttien maande later het lidmate kans gekry om te stem oor kerkbou: 85 was ten gunste, 103 daarteen; 107 het gesê wag met die bouery en 45 het gesê begin dadelik bou.
Ten spyte van dié uitslag het die kerkraad besluit om op 2 Januarie 1950 te begin bou. Spesiale kollektante is aangewys, maar van die geldinsameling het niks tereggekom nie. In Mei 1950 het die kerkraad toe besluit om 'n saal pleks van 'n kerk te bou. Bosman en Neethling het die plan geteken en die firma Truter se tender van £6 288 vir die bouwerk is aanvaar. Die toring sou £22 ekstra kos.
Ds. P.C. Rule en die gesin Hornsveld het die klok geskenk en J.H. van Tonder die hoeksteen, wat ds. Rule op 27 Januarie 1951 gelê het. Ses maande later is die kerksaal amptelik ingewy. Tien jaar later het die kerkraad besluit om dié saal te vergroot, 'n projek waarmee daar in 1966 begin is. Die argitek vir die verandering aan die saal was Otto Verhoef en die bouaannemer Jan Sigle. J.H. van Tonder, wat destyds die hoeksteen geskenk het, het die nuwe fasade van rivierklip onderneem. Die gemeente het die ou kansel en kerkklok aan die sendinggemeente De Hoop geskenk. 'n Klokkespel is vervolgens aangekoop en op 12 November 1966 kon die gemeente sy nuwe kerk in gebruik neem.
| afr_Latn_141 |
Knopiespinnekop
Knopiespinnekop is 'n algemene naam wat in Suider-Afrika gebruik word om te verwys na die plaaslike lede van die spinnekopgenus, Latrodectus, in die Theridiidae-familie. Hierdie spinnekoppe staan elders in die wêreld ook as weduweespinnekoppe ("widows") bekend.
Daar kom ongeveer ses Latrodectus-spesies in Suider-Afrika voor – vyf van hulle is inheems en een moontlik ingevoer.
| afr_Latn_142 |
Shashi Naidoo
Shashi Naidoo (gebore 4 November 1980) is 'n Suid-Afrikaanse aktrise, model en TV-aanbieder. Sy is veral bekend as mede-aanbieder van e.tv se tydskrif-program, 20Something.
| afr_Latn_143 |
Ismail ibn Musa Menk
Ismail ibn Musa Menk, ook bekend as Mufti Menk, is 'n Moslem-geestelike en die huidige Groot-Mufti van Zimbabwe.
| afr_Latn_144 |
Salman Khan
Abdul Rashid Salim Salman Khan (gebore 27 Desember 1965), beter bekend as Salman Khan, is 'n Indiese akteur, filmvervaardiger, TV-aanbieder en filantroop. In 1988 maak hy sy debuut in die film Biwi Ho To Aisi. Sy rol in die film Maine Pyar Kiya het hom die prys van Beste Manlike Byrol besorg. Daarna het hy rolle in die films Saajan (1991), Hum Aapke Hain Koun..! (1994), Karan Arjun (1995), Judwaa (1997), Pyar Kiya To Darna Kya (1998), Biwi No.1 (1999) en Hum Saath Saath Hain (1999) vertolk. Dié films het een na die ander groot sukses behaal.
| afr_Latn_145 |
Mauricio Macri
Mauricio Macri [mauˈɾisjo ˈmakɾi] (* 8 Februarie 1959) is 'n Argentynse siviele ingenieur, sakeman en politikus van die konserwatiewe party Propuesta Republicana (PRO; "Republikeinse Voorstel") wat tussen 10 Desember 2007 en 9 Desember 2015 die amp van regeringshoof van die outonome stad Buenos Aires beklee het.
Macri, die seun van die bekende Italiaanse sakeman en nyweraar Francisco Macri, was PRO se kandidaat in die presidensiële verkiesing van 2015. In die tweede rondte van dié verkiesing het hy op 22 November 2015 met 51,4 persent van die uitgebragte stemme 'n oorwinning oor die Peronistiese regeringskandidaat Daniel Scioli behaal. Macri is op 10 Desember 2015 as staatspresident en opvolger van Cristina Fernández de Kirchner ingesweer en het tot 10 Desember 2019 dié amp beklee.
| afr_Latn_146 |
Zackie Achmat
Abdurrazack Achmat, beter bekend as Zackie Achmat (gebore 21 Maart 1962) is 'n wêreldbekende Suid-Afrikaanse vigsaktivis.
Achmat is veral bekend as stigter en voorsitter van die Treatment Action Campaign (TAC) en sy werk vir mense met MIV/vigs in Suid-Afrika. Achmat is openlik homoseksueel en MIV-positief.
| afr_Latn_147 |
Gereformeerde kerk Rooihuiskraal
Die Gereformeerde kerk Rooihuiskraal is 'n gemeente in die Gereformeerde Kerk (GKSA) se Klassis Pretoria-Suidwes. Die jongste gemeente in dié klassis met oorwegende Afrikaanssprekende lidmate en, volgens die sieletal, die derde grootste gemeente naas Rietvallei en Centurion.
Rooihuiskraal het in 1988 (net drie jaar ná die NG gemeente Rooihuiskraal se stigting) van Wierdapark afgestig, wat op sy beurt in 1973 (drie jaar voor die NG gemeente Wierdapark se stigting) van die Gereformeerde kerk Voortrekkerhoogte afgestig het. Aan die begin is die eredienste in verskillende skoolsale gehou. Die kerkgebou is onder leiding van die argitek Tertius Horak beplan as 'n doelmatige gebou wat gebruik sou kon word vir meer as net formele eredienste. Die eerste gemeentebyeenkoms in dié nuwe gebou was op 30 November 2003, 15 jaar ná afstigting, maar die amptelike ingebruikneming was eers op 1 Februarie 2004.
Aangesien die gemeente veeldoelig is, kan dit ook deur die loop van die week gebruik word. Daar is dan ook nie vaste kerkbanke nie, maar los stoele. Die preekstoel is ook so ontwerp dat dit rondgeskuif kan word op 'n mobiele verhogie.
Rooihuiskraal het einde 1997 'n sieletal van 776 gehad van wie 299 dooplidmate was, einde 2001 was dit 818, van wie 301 dooplidmate was, maar einde 2014 684, van wie net 165 dooplidmate was. Dié afname in die kindertal is waarskynlik daaraan te wyte dat baie van die egpare met jong kinders wat hulle in die beginjare van die woonbuurt hier kom vestig het, hier gebly het namate die kinders groter geword en eindelik die huis verlaat het.
Naas die voorstad Rooihuiskraal, beslaan die gemeente onder meer ook Brooklands Estates, die kleinhoewes van Halfweghuis, Heuweloord, Midstream Estates, The Reeds en Wierdapark X2.
| afr_Latn_148 |
Edwin Cameron
Edwin Cameron (gebore 15 Februarie 1953 in Pretoria) is 'n oudregter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika. Hy is bekend vir sy aktivisme vir die beskerming van mense met MIV/vigs en die regte van LGBT-mense. Nelson Mandela het hom as "een van die helde van die nuwe Suid-Afrika" beskryf.
| afr_Latn_149 |
Gereformeerde kerk Wierdapark
Die Gereformeerde kerk Wierdapark is 'n gemeente in die Gereformeerde Kerk (GKSA) se Klassis Pretoria-Suidwes. Die gemeente beslaan, buiten Wierdapark en die meeste van sy uitbreidings, ook Eldoraigne, Valhalla en die kleinhoewes Mnandi.
Wierdapark het op 21 Oktober 1973 van die Gereformeerde kerk Voortrekkerhoogte afgestig, drie jaar voor die eerste NG gemeente met dié naam, maar in 1982 het ook nog Wierdapark-Suid aan die beurt gekom. Dié twee NG gemeentes, Eldoraigne, Valhalla en Valhalla-Suid het einde 2014 altesaam 6 698 lidmate gehad, vergeleke met die Gereformeerde kerk Wierdapark se 296. Dis 'n verhouding van 1:22,6, vergeleke met die hele GKSA (lidmate van alle rasse) se verhouding van belydende lidmate tot dié van die NGK van nagenoeg 1:11.
As bruidskat het Wierdapark R18 000 en drie woonerwe ontvang, wat die kerkraad met die Nederduitsch Hervormde Kerk vir 'n kerkerf verruil het. In die eerste jaar (1973) is eredienste in die kerkgebou van Voortrekkerhoogte gehou, maar van omstreeks die begin van 1974 af het die dienste verskuif na die saal van die Hoërskool Voortrekkerhoogte. Sowat 'n jaar later het die kerkraad 'n boukommissie aangewys, wat die argitekte Roos en Boschof, wat die Gereformeerde kerk Meyerspark ontwerp het, genader het. Enkele boukontrakte het misluk, waarna die kerkraad self as eienaarbouer opgetree het onder ds. L.S. van der Vyver se toesig. 'n Maand lank het die bouwerk stilgestaan tot lidmate self ingespring het.
Op 6 Maart 1977 is die gebou met sy 400 sitplekke in gebruik geneem. Wanneer die skuifdeure tussen die aangrensende saal en die kerk oopgeskuif word, kan nog 250 sitplekke voorsien word. Prof. Hennie Bingle het die Nagmaaltafel, stoele en doopvont gemaak.
Wierdapark se sieletal het van 1 216 einde 1997 tot 1 400 einde 2001 toegeneem, maar toe om die een of ander rede afgeneem tot 965 einde 2011 en net 442 einde 2014. (Binne die volgende jaar het dit met nog 48 verminder tot 394.) Van 2011 tot 2014 het die klassis se sieletal afgeneem van 6 081 tot 5 479, 'n afname van 9,9 persent vergeleke met Wierdapark se afname van meer as 54 persent. Laat 'n mens Wierdapark se syfer buiten rekening, het die klassis se sieletal net met 1,5 persent van 5 116 tot 5 037 gedaal.
| afr_Latn_150 |
Wierdapark
Wierdapark is sedert 2000 'n voorstad van Pretoria nadat dit lank deel was van Verwoerdburg en toe Centurion.
Die voorstad is op die plaas Cyferfontein No. 2 uitgelê deur Johannes Nolten en Edith M.B. Neff, in 1938 geproklameer en genoem na die hoofargitek van die Transvaalse Republiek Sytze Wierda. Wierdapark is 3 km suid van die Wierdabrug geleë, waar die ou hoofpad van Pretoria na Johannesburg oor die Sesmylspruit loop, 10 km suid van Pretoria by Swartkops en suid van Valhalla, wat ook tot 2000 'n voorstad van Centurion was.
Die Gereformeerde kerk Wierdapark is in 1973 gestig, die jaar ná die Nederduitsch Hervormde Kerk se gemeente Swartkop op 5 November 1972. Laasgenoemde sluit benewens Wierdapark ook Valhalla, Voortrekkerhoogte, Clubview, Eldoraigne en enkele ander gebiede in, terwyl die Gereformeerde gemeente ook Eldoraigne, Valhalla en die kleinhoewes Mnandi omvat. Die NG gemeente Wierdapark is in 1976 gestig en die NG gemeente Wierdapark-Suid in 1982.
| afr_Latn_151 |
Gereformeerde kerk Waterval-Boven
Die Gereformeerde kerk Waterval-Boven was een van die kleinste gemeentes in die Gereformeerde Kerk en het einde 2014 net nege belydende en drie dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 13 en twee einde 2001. Die gemeente het in 2020 ontbind.
Die gemeente het in Januarie 1951 van die Gereformeerde kerk Belfast afgestig en kon sy eie kerkgebou op 16 Mei 1959 in gebruik neem. Dis 'n eenvoudige saalkerkie volgens dieselfde plan wat die argitek Johan de Ridder vir die Gereformeerde kerk Belfast geteken het.
| afr_Latn_152 |
Gereformeerde kerk Vrede
Die Gereformeerde kerk Vrede was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) op die Noord-Vrystaatse dorp Vrede.
Vrede was eers 'n wyk van die Gereformeerde kerk Standerton, maar het in November 1956 afgestig. Aan die begin is dienste in die kerkgebou van die plaaslike Metodistegemeente gehou, maar kort voor lank het lidmate 'n boufonds begin en toestemming gekry om binne kerkverband te kollekteer. Die doeltreffende, en van binne sierlike, kerkgebou is in Oktober 1960 in gebruik geneem nadat die hoeksteen op 23 Mei 1959 gelê is sonder vermelding daarop deur wie.
Vrede se lidmaattal het met die jare verbasend bestendig gebly, hoewel die getal dooplidmate die afgelope amper ses dekades met die helfte afgeneem het. In die eeufeesjaar van die GKSA (1959) was hier 45 belydende en 24 dooplidmate, einde 2001 onderskeidelik 40 en 13, en einde 2014 41 en 12. Intussen was dit wel laat in die 1990's onderskeidelik amper 60 en 20. Die laaste syfers (in die Almanak vir 2020) was 28 en vyf.
| afr_Latn_153 |
David van Rooyen
David (Des) van Rooyen (gebore op 20 November 1968) is op 10 Desember 2015 as Suid-Afrika se minister van finansies beëdig. Hy volg die vorige minister van finansies, Nhlanhla Nene op, nadat Nene summier van sy pos onthef is. Die markte het nie positief op sy aanstelling gereageer nie en die Suid-Afrikaanse Rand het deur die vlak van R15 per dollar en R16 per euro gebreek. Sy aanstelling is drie dae later herroep, waarna hy deur Pravin Gordhan, 'n vorige minister van finansies, opgevolg is. Hy is verskuif na Gordhan se vorige pos as minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede. Nadat Cyril Ramaphosa in Februarie 2018 Jacob Zuma as president van Suid-Afrika opgevolg het, is David van Rooyen nie vir die nuwe kabinet benoem nie.
Van Rooyen was in die tagtigerjare 'n lid van Umkhonto we Sizwe. Sedertdien was hy 'n uitvoerende burgemeester van die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit en 'n gewese Noordwes-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering.
Tydens sy ampstermyn as burgemeester was daar sterk teenkanting teen die inlywing van die munisipaliteit by Noordwes. As gevolg hiervan is sy huis in 2006 deur woedende inwoners afgebrand.
Die Universiteit van Londen het in 2014 'n M.Sc. in finansies aan hom toegeken.
| afr_Latn_154 |
Maggie Simpson
Margaret "Maggie" Simpson is 'n geanimeerde tekenprentkarakter in die televisiereeks The Simpsons. Sy is genoem na Matt Groening, die skepper van die program, se suster, Maggie. Sy is die jongste kind van Homer en Marge Simpson, en suster van Bart en Lisa.
| afr_Latn_155 |
Indiana pi-wetsontwerp
Die Indiana pi-wetsontwerp (Engels: Indiana Pi Bill) is 'n naam wat aan wetsontwerp 246 van die 1897-sitting van Indiana se Algemene Vergadering gegee is. Die pi-wetsontwerp het berug geword vanweë die poging om 'n wiskundige waarheid deur middel van 'n wet te probeer vaslê. Die wetsontwerp is nooit goedgekeur nie, danksy professor C. A. Waldo van die Purdue Universiteit wat toevallig op die stemdag in die raadsaal teenwoordig was.
Die voorgestelde wet het nie direk die waarde van pi probeer voorskryf nie, maar het eerder oor die antieke meetkundeprobleem van die kwadratuur van 'n sirkel gehandel. Die kwadratuur van 'n sirkel behels die taak om 'n vierkant te teken wat presies dieselfde oppervlak as 'n gegewe sirkel het, deur slegs van 'n passer en 'n liniaal gebruik te maak. Menigte wiskundiges het al sedert die Griekse tyd gedink dat hierdie taak onmoontlik is, en in 1882 het Ferdinand von Lindemann inderdaad bewys dat dit die geval is. Dit het egter nie die dokter en amateurwiskundige Edward J. Goodwin daarvan weerhou om in 1894 met 'n nuwe "bewys" vorendag te kom, en om sy sogenaamde bewys deur middel van 'n wet te probeer vaslê nie. Hierdie bewys, indien dit korrek was, sou onder meer behels het dat die waarde van pi wettiglik gelyk sou wees aan 3,2 (in plaas van sy werklike waarde 3,1415...).
| afr_Latn_156 |
Ivan Abrahams
Ivan Abrahams is 'n Suid-Afrikaanse akteur. Hy is veral bekend vir sy verhoogoptredes, maar het ook in verskeie TV-reekse en rolprente opgetree. Hy het in 2000 'n Vita-prys as beste akteur vir sy rol in SUIP! ontvang.
| afr_Latn_157 |
Muckleneuk
Muckleneuk is 'n gevestigde voorstad in die ou-ooste van Pretoria in Gauteng, Suid-Afrika. Dit is geleë tussen Sunnyside in die noorde en Groenkloof en Brooklyn in die suide. Muckleneuk is in die laat 1890's deur George Walker gestig, nadat hy 'n gedeelte van die oorspronklike plaas Elandspoort bekom het. Hy het die voorstad na sy familie-landgoed in Skotland genoem. In 2019 is Muckleneuk deur 'n reeks moorde geteister waarin middeljarige, hawelose mans geteiken is.
| afr_Latn_158 |
Lydiana
Lydiana is 'n voorstad in die ooste van Pretoria, Suid-Afrika. Dis genoem na min. P.G.W. Grobler se eggenote, Lydia. Hulle het jare lank in die huis by Aloelaan 28 gewoon. Die straat aan die ander kant van die huis is na min. Grobler genoem.
| afr_Latn_159 |
Karel Landman
Karel Pieter Landman (1796 Uitenhage – 1875 plaas Uithoek, Pietermaritzburg-distrik) was 'n voortrekkerleier van die grootste trekgeselskap en tweede in bevel onder generaal Andries Pretorius tydens die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.
| afr_Latn_160 |
Lionel Abrahams
Lionel Abrahams (11 April 1928 – 31 Mei 2004) was 'n Suid-Afrikaanse romanskrywer, digter, redakteur, kritikus, essayis en uitgewer. Hy is in Johannesburg gebore, waar hy sy lewe lank gewoon het. Hy is met 'n serebrale gestremdheid gediagnoseer en moes tot 11-jarige ouderdom 'n rolstoel gebruik.
Abrahams is veral bekend vir sy poësie. Herman Charles Bosman was sy mentor. Hy het later sewe volumes van Bosman se postuum-gepubliseerde werke geredigeer.
Abrahams was in eie reg een van die invloedrykste figure in die Suid-Afrikaanse letterkunde, en het talle gedigte, essays en twee romans gepubliseer. Deur Renoster-boeke, wat hy in 1956 begin het, het hy werke van Oswald Mtshali en Mongane Wally Serote gepubliseer.
Hy is in 1986 met Jane Fox getroud. In dieselfde jaar ontvang hy eredoktorsgrade in die letterkunde van die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van KwaZulu-Natal.
| afr_Latn_161 |
Oswald Mtshali
Oswald Mbuyiseni Mtshali (gebore 17 Januarie 1940) is 'n Suid-Afrikaanse digter. Hy skryf in Zoeloe en Engels. Hy het aan die Universiteit van Columbia studeer en woon tans in Soweto.
Mtshali was 'n bode in Soweto voordat hy sy eerste boek, Sounds of a Cowhide Drum (1971), gepubliseer het. Die bundel is in 1974 met die Olive Schreiner-prys vereer. Dit is een van die eerste digbundels deur 'n swart digter wat wyd versprei is, en het heelwat debat onder liberale witmense in Suid-Afrika ontketen. Die boek was 'n kommersiële sukses vir sy uitgewer, Lionel Abrahams.
Ná sy sukses as 'n digter het Mtshali 'n opvoeder geword. Hy was die onderhoof van Pace College, 'n kommersiële skool in Soweto. Hy het ook aan die New York City College of Technology gedoseer.
| afr_Latn_162 |
May Abrahams
May Abrahams (1930~) is 'n Suid-Afrikaanse sopraan. Abrahams is in Distrik Ses in Kaapstad gebore en getoë, waar sy jare lank as 'n huishoudster gewerk het.
Op 14 word sy 'n lid van Billy Jones se koor, wat later tot die stigting van die Eoan-groep van uitvoerende kunstenaars lei. In 1956 debuteer sy as Violetta in die groep se eerste aanbieding van La Traviata in die Kaapstadse Stadsaal. Daarna reis sy saam met die groep na Brittanje.
Teen die einde van haar loopbaan was sy professioneel aan die destydse Sukovs-opera in Bloemfontein verbonde.
| afr_Latn_163 |
Fred Abrahamse
Fred Abrahamse is 'n Suid-Afrikaanse akteur en teaterregisseur. Hy werk hoofsaaklik in Engels, maar rig ook Afrikaanse produksies af.
Ná sy studie aan die Universiteit van Kaapstad begin hy sy loopbaan by Die Ruimte-teater in die stad. Hy het later in die 1970's die Troupe Theatre Company gestig. In die laat 1980's en vroeë 1990's was hy 'n inwonende direkteur van die Baxter-teater en in 2008 was hy die mede-stigter en artistieke direkteur van die NewSpace-teater in Langstraat.
Sy Afrikaanse produksies sluit in: Buitepos (Rachelle Greeff), met Deon Lotz, Deirdre Wolhuter en Jill Middelkop in die rolverdeling. Die melktrein stop nie meer hier nie (Tennessee Williams), met Marcel Meyer, Roelof Storm en Antoinette Kellermann op die verhoog. Hol, 'n Kunstekaap-produksie, deur en met Nicola Hanekom.
| afr_Latn_164 |
Khanyisile Litchfield-Tshabalala
Khanyisile Litchfield-Tshabalala is 'n voormalige lid van die Parlement vir die Ekonomiese Vryheidsvegters en 'n voormalige Suid-Afrikaanse Vlootadmiraal. Sedert 3 Junie 2015 is sy 'n lid van die UDM en dien nou as die party se Nasionale Organiseerder.
Sy is in Soweto gebore en het later 'n lid van Umkhonto we Sizwe geword. Daarom is sy in ballingskap na Angola gestuur. Nadat sy na Suid-Afrika teruggekeer het, verwerf sy 'n politiek- en drama-graad sowel as 'n honneursgraad in kriminologie aan die Universiteit van Kaapstad.
| afr_Latn_165 |
Absalom
Absalom (Hebreeus: אבשלום, Awsjalom, letterlik: "vader van vrede") is 'n figuur in die Ou Testament van die Bybel. Hy was die derde seun van Dawid, die koning van Israel. Hy is as die mooiste en knapste man in die koninkryk beskryf.
Hy is vir 'n wyle deur sy vader, koning Dawid, verban. Hy het sy broer Amnon vermoor, wat hulle (half)suster Tamar verkrag het. Later kon hy weer na Jerusalem terugkeer.
Uiteindelik lei hy 'n opstand teen sy vader. Hy sterf toe hy aan sy hare in 'n boom bly hang, waarna hy deur Joab, Dawid se leëraanvoerder, vermoor is.
| afr_Latn_166 |
Abstrakte ekspressionisme
Abstrakte Ekspressionisme is 'n skilderstyl wat in die laat 1940's in New York ontwikkel het. Dit word gekenmerk deur vorms en patrone wat nie soos werklike dinge of mense lyk nie, maar emosies probeer uitdruk.
Die stroming domineer die kunswêreld in die jare 1946 tot 1960. Dit was die eerste groot kunsstroming na die Tweede Wêreldoorlog en die eerste in die Verenigde State van Amerika, spesifiek in New York Stad, as die bakermat daarvan.
Die styl is deur kunstenaars soos Jackson Pollock, Mark Rothko en Willem de Kooning beoefen. Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Christo Coetzee het ook in dié styl gewerk.
| afr_Latn_167 |
Angelina Jolie
Angelina Jolie (gebore Voight; 4 Junie 1975 in Los Angeles, Kalifornië) is 'n Amerikaanse aktrise, filmvervaardiger en humanis. Sy het 'n Oscar, twee Screen Actors Guild-toekennings en drie Golden Globe-toekennings ontvang, en is bekend as Hollywood se hoogsbetaalde aktrise.
Jolie het haar rolprentdebuut as kind saam met haar pa, Jon Voight, gemaak in Lookin' to Get Out (1982). Haar filmloopbaan het 'n dekade later in alle erns begin met die kleinbegrotingproduksie Cyborg 2 (1993), gevolg deur haar eerste hoofrol in 'n groot rolprent, Hackers (1995). Sy het in die kritiesbekroonde biografiese televisiefilms George Wallace (1997) en Gia (1998) opgetree, en het 'n Oscar vir die Beste Byspeler vir haar toneelspel in die drama Girl, Interrupted (1999) ontvang.
Sedert 2010 het sy haar loopbaan uitgebrei met die regie en vervaardiging van die oorlogdramas In the Land of Blood and Honey (2011) en Unbroken (2014), asook die romantiese drama By the Sea (2015). Haar grootste sakesukses sover is die fantasieprent Maleficent (2014).
| afr_Latn_168 |
Engela van Rooyen
Engela Elizabeth Helena van Rooyen (1939-) is 'n Afrikaanse skryfster. Sy skryf vir volwassenes en ook vir die jeug en van haar boeke word gereeld vertaal asook voorgeskryf op skool. Sy maak, op destydse advies van haar uitgewer, van meer as een skryfnaam gebruik. Dus is sy ook Engela Linde (haar getroude van) en Louisa du Toit.
| afr_Latn_169 |
Hetta Hager
Hetta Hager (1943–2015) was 'n skrywer van kontreiverhale waarin Griekwa-Afrikaans gedokumenteer word en was ook onderwyser, joernalis en kurator van die Mary Moffat-museum op Griekwastad. Sy skryf ook verskeie romans onder die skuilnaam Sophia Burger.
| afr_Latn_170 |
Irshad Manji
Irshad Manji (Arabies: إرشاد مانجي 'Irshād Mānjī, Gujarati: ઇરશાદ માનજી Irshād Mānji, gebore 1968) is 'n Oegandies-Kanadese skrywer en joernalis van Egiptiese en Gujarati afkoms. Sy 'n voorstander van 'n "gereformeerde en progressiewe" interpretasie van Islam. Manji is direkteur van die morele moedprojek by die Robert F. Wagner Nagraadse Skool van Openbare Diens aan die New York Universiteit, die doel daarvan is om jong leiers te wys "hoe om politieke korrektheid, intellektuele konformiteit en self-sensorskap uit te daag". Sy is ook die stigter en president van Projek ijtihad, 'n liefdadigheidsorganisasie wat 'n "tradisie van kritiese denke, debat en meningsverskil" in Islam wil bevorder.
Manji is 'n bekende kritikus van tradisionele en konserwatiewe elemente van die Islam. Sy is deur die New York Times as "Osama bin Laden se ergste nagmerrie" beskryf.
| afr_Latn_171 |
Mirza Ghulam Ahmad
Mirza Ghulam Ahmad (13 Februarie 1835 – 26 Mei 1908; Oerdoe/Persies: ) was 'n Indiese godsdienstige figuur. Hy staan bekend as die stigter van die Ahmadiyya Moslem-gemeenskap. Hy het beweer dat hy die Mahdi sowel as die Mujaddid van die 14de Islamitiese eeu was. M.a.w dat hy in die gelykheid van Jesus van Nasaret (mathīl-i'Isā) was.
| afr_Latn_172 |
Taslima Nasrin
Taslima Nasrin (Mymensingh, 25 Augustus 1962, Bengaals: তসলিমা নাসরিন) is 'n Bengaalse skrywer en feminis wat vroueregte, menseregte en sekulêre humanisme in Bangladesh ondersteun. Sy woon deesdae in ballingskap in verskeie lande. Sy het geneeskunde met spesialisasie in ginekologie gestudeer. Sy het tot 1994 as 'n dokter vir die goewerment gewerk. In die laat 1990's het sy wêreldberoemd as 'n skrywer geword. Sedert 1993 is Nasrin vir 'n paar keer met die dood deur moslimekstremiste gedreig omdat sy gereeld die Islamitiese godsdiens kritiseer. Nasrin is 'n ateïs.
| afr_Latn_173 |
Arundhati Roy
Suzanna Arundhati Roy (gebore 24 November 1961) is 'n Engelstalige Indiese skrywer. Sy is veral bekend vir haar 1997-roman The God of Small Things. Sy is ook 'n politieke aktivis wat met die sake van menseregte en omgewingsgeregtigheid verbind is.
| afr_Latn_174 |
Florauna
Florauna is 'n voorstad in die noordweste van Pretoria in Gauteng, Suid-Afrika. Die area is boomryk met pragtige tuine.
| afr_Latn_175 |
Gereformeerde kerk Bloemburg
Die Gereformeerde kerk Bloemburg is die jongste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein.
Bloemburg het op 19 November 2006 tot stand gekom toe dit afstig van die Gereformeerde kerk Ventersburg. Die lidmate was oorspronklik Bloemfonteinse lidmate wat per attestasie in 2004 na Ventersburg vertrek het. Aanvanklik het hulle byna elke Sondag die 160 km gereis om eredienste daar by te woon. Toe hulle vier wyke sterk geword het, het hulle in 2006 'n selfstandige gemeente gevorm.
Lidmate woon oral in die Rosestad en voeg hulle onder meer by dié gemeente omdat dit hou by die gebruik van die gemeenskaplike Nagmaalbeker. Kort ná sy stigting was 'n derde van die lidmate studente. Einde 2011 het die belydende lidmate 45 getel en die dooplidmate 12. Einde 2014 was dit onderskeidelik 34 en agt, maar die jongste syfers is 60 en 11.
Aan die begin is die gemeente in kombinasie met Ventersburg/Hennenman/Senekal bedien, maar in Februarie 2009 het dit in kombinasie met Colesberg getree. In 2015 was albei dié gemeentes vakant ná die vertrek van ds. D.J. Dykstra.
Bloemburg het eers sy eredienste gehou in die Engelse kerk op die hoek van Erns Jansen- en Oscar Hoexterstraat, Heuwelsig, maar later geskuif na Haarburgersingel, Westdene, na die perseel van die NG gemeente Bloemheuwel. Tans (2017) gebruik hulle die kerkkompleks van die Gereformeerde kerk Vleuels in Langenhovenpark.
| afr_Latn_176 |
Gereformeerde kerk Bloemfontein-Noord
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Noord is op die oomblik (2015) die tweede grootste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein.
| afr_Latn_177 |
Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid is sedert 2013 die tweede oudste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, nadat die gemeente Bloemfontein-Oos (1949) in 2007 ontbind het en die moedergemeente (1903), die oudste in die stad, in 2013 ontbind het.
| afr_Latn_178 |
Gereformeerde kerk Bloemfontein-Oos
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Oos was die derde oudste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, maar het in 2007 ontbind, waarna lidmate ingeskakel het by die moedergemeente Bloemfontein, wat op sy beurt in 2013 ontbind het.
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein het in die veertigerjare buitedienste begin hou op Shannon, 'n kleinhoewegebied aan die oostekant van die stad, noord van Heidedal en oos van Bloemspruit. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit swaar om 'n boupermit te kry; daarom het die kerkraad van die moedergemeente 'n sinkpakhuis by ene Glover gekoop. In 1949 het Bloemfontein-Oos afgestig. Later kon die moedergemeente die eerste, beskeie saalkerk oprig wat tot 1966 in gebruik was. Vir dié gebou het die Gereformeerde kerk Burgersdorp hul ou preekstoel skenk. Dit het van vanaf 1965 tot 2005 in 'n pakhuis op 'n plaas gestaan en is toe aan Burgersdorp teruggegee, wat dit gerestoureer en aan die Gereformeerde kerk Graaff-Reinet geskenk het.
Nadat die ou saalkerk te klein geraak het, is 'n nuwe gebou in 1965 opgerig. Einde 1997 het die gemeente 140 belydende en 57 dooplidmate gehad en die moedergemeente onderskeidelik 181 en 32. Kort voordat die moedergemeente ook ontbind het (2013), was daar net 102 belydende en 19 dooplidmate.
Die gemeente het die gebiede Bob Rogerspark en die Bloemspruit-hoewes asook die Grootvlei-gevangenis en Lugmagbasis Bloemspruit beslaan.
| afr_Latn_179 |
Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suidheuwels
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suidheuwels is die sewende gemeente van die GKSA wat gestig is in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, maar nadat twee gemeentes, Bloemfontein en Bloemfontein-Oos ontbind het, is dit nou (2024) die vyfde oudste gemeente. In 2014 het die gemeente 294 belydende en 55 dooplidmate gehad. Tien jaar later was dit 210 en 20.
In 1965 het die kerkraad van die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid vergader en besluit om die wyke suid van die spoorlyn na Kimberley af te stig. Die amptelike afstigting het dan ook op 16 Mei 1965 plaasgevind. As bruidskat kry die nuwe gemeente 'n kerkerf in die voorstad Generaal De Wet, waarop die nuwe gemeente se kerkgebou opgerig moes word.
Aan die begin is eredienste op verskeie plekke gehou voor bouwerk aan die gebou kon begin. Die projek se beplanning het op 27 Julie 1967 begin en 'n tender van R60 877 van die firma J.P.M. Moffett is aanvaar. Ds. W.J.I.M. du Plessis het die hoeksteen op 27 Mei 1968 gelê. Die jongste uitgawe van die gemeenteblad is saam met die hoeksteen ingemessel. 'n Kenmerk van dié destyds moderne gebou is sy wegstaande toring wat met die gebou verbind is. Die gemeente se susters (vrouelidmate) het aan die werk gespring en die orrel, wat teen 'n koste van R6 475, betreklik gou afbetaal.
Net nege maande nadat die hoeksteen gelê is, en wel op 1 Maart 1969 kon die kerk in gebruik geneem word tydens 'n erediens wat dr. G.C.P. van der Vyver gelei het. Ds. W.J.I.M. du Plessis eggenote, Breggie du Plessis (gebore op 9 Februarie 1928), het die hoofingang by die hoeksteen plegtig oopgesluit. Die kerkgebou het sitplek vir sowat 600 kerkgangers, wat met 200 vermeerder kan word wanneer die voudeure oopgeskuif word wat die saal en die kerk skei. Lidmate het heelwat van die items in die kerk geskenk: die galeryhorlosie, doopbakkie, knielbank voor die preekstoel, Kanselbybel en kerkbanke.
Destyds het die gemeente nog gegroei; daarom is op 'n vergadering op 17 Maart 1976 besluit om die kerk te vergroot. Die gevolg was die bou van die kerksaal wat oudl. V. du Plessis teen 'n koste van R104 000 opgerig het. Weens die hoë boukoste het die kerkraad afstigting bespreek en so het die Gereformeerde kerk Bloempark in 1979 afgestig.
| afr_Latn_180 |
Gereformeerde kerk Vleuels
Die Gereformeerde kerk Vleuels is sedert 2013, hoewel dit eers in 1942 gestig is, die oudste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, nadat die Gereformeerde kerk Bloemfontein in 2013 ontbind het. Ook die derde oudste gemeente in die Rosestad, Bloemfontein-Oos, het weens veranderende vestigingspatrone van Gereformeerdes ontbind, en wel in 2007.
| afr_Latn_181 |
Gereformeerde kerk Bloempark
Die Gereformeerde kerk Bloempark is die derde jongste en ook die grootste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein.
Dit beslaan voorstede of woonbuurte soos Fichardtpark (gedeeltelik), Hospitaalpark en Pellissier. Oos van Bloempark sluit Bloemfontein-Suidheuwels, waarvan Boempark afgestig het, voorstede in soos Fauna, 'n gedeelte van Fichardtpark, Fleurdal, Ehrlichpark, Oranjesig en Uitsig, terwyl Bloemfontein-Suid, waarvan Suidheuwels afgestig het, die woonbuurte noord van Bloempark beslaan, soos Universitas, Gardeniapark, Wilgehof en Willows. Binne Bloempark se gemeentegrense is ook die grootste NG gemeente in Bloemfontein en tewens in die Vrystaat, die NG gemeente Pellissier, wat einde 2014 3 977 belydende en 1 273 dooplidmate gehad het. Bloempark se sieletal was 921 in 1997, 885 in 2001 en 598 in 2011, maar 707 in 2014 en 727 in 2015.
Bloempark het in 1979 van Bloemfontein-Suidheuwels afgestig met ds. Johan van der Walt en sy vrou, Duba, as eerste predikantspaar. Die kerkgebou is in 1982, tydens sy bedieningstyd, opgerig. Die bouer was Jan Vorster, 'n lidmaat van Bloempark. Omdat daar 'n tekort aan bakstene was, is groot dele van die kerkgebou gebou met betonblokke van 6 t elk wat op die terrein gegiet is. Onder ds. Van der Walt se leiding het talle lidmate saans en Saterdae met die afrondingswerk kom help. Tydens die uitgrawings vir Suidheuwels se saal (omstreeks 1976) – wat gebou is omdat die kerk te klein geword het, maar waarna vir afstigting van Bloempark besluit is omdat die boukoste om die kerk te vergroot te hoog sou wees – is 'n groot klip met 'n holte daarin uitgehaal wat iewers as voëlbad moes dien. Ds. Van der Walt het egter besluit om dit met 'n koperplaat te laat uitvoer en op 'n voetstuk te monteer sodat dit as doopvont en as simbool van Bloempark se bande met Suidheuwels kon dien.
| afr_Latn_182 |
Krap
Krappe (Brachyura) is 'n groep van kreefagtige diere wat aan die orde van tienpotiges (Decapoda) behoort. Die wetenskaplike naam, Brachyura, beteken letterlik kort stert en verwys na die agterlyf wat, anders as ander kreefagtiges, nie 'n sigbare stert het nie.
Alle krappe het 10 pote, 'n dik eksoskelet en 'n plat lyf wat breër is as wat dit lank is. Die oë is op uitsteeksels gemonteer en die voorpote het knypers. Krappe beweeg lateraal voort (loop skuins) en kan vinnig ingrawe as gevaar dreig.
Krappe is 'n uiters suksesvolle groep, wat oor die hele wêreld voorkom. Hulle is basies swaar gepantserde skulp-brekers. Die meeste krappe kom in die see voor, maar daar is 'n paar wat in varswater voorkom, en selfs 'n paar wat op land leef. Die kleinste krappies word so groot soos 'n ertjie; die grootste (die Japanse spinnekopkrap) se bene word tot 4 meter lank. Omtrent 7 000 spesies is bekend.
Krappe is omnivore en vreet bykans enigiets. Dikwels is dit alge, maar dierlike voedsel is noodsaaklik vir hulle gesondheid en ontwikkeling. Hulle sal weekdiere, skaaldiere asook wurms, swamme en bakterieë vreet.
| afr_Latn_183 |
Lancia Nea
Die Lancia Nea is 'n klein konsepmotor bekend gestel in 2001 by die "Salón del Automóvil de París" motorskou. Die Griekse naam 'Nea' beteken "nuut" en sinspeel op die toekoms.
NEa
| afr_Latn_184 |
Lancia LC1
Die Lancia LC1 is 'n reeks sportmotors wat deur Lancia gebou is vir deelname aan die Le Mans 24-uur-wedren vanaf 1982 tot 1983. Die motors het drie oorwinnings behaal in die 1982-seisoen.
LC1
| afr_Latn_185 |
Lancia LC2
Die Lancia LC2 is 'n reeks sportmotors deur Lancia vervaardig vir deelname aan die Le Mans 24-uur-uithouwedren van 1983 tot 1986. Die motor is soms 'n 'Lancia-Ferrari' genoem aangesien dit deur Lancia gebou is, maar oor 'n Ferrari-enjin beskik het.
LC1
| afr_Latn_186 |
Tienpotiges
Tienpotiges (Decapoda) is 'n biologiese orde van geleedpotige diere. Krappe, krewe en garnale behoort aan die orde. Behalwe vir 'n paar uitsonderings, leef hierdie diere in die see.
Soos die naam aandui, het alle tienpotiges vyf paar looppote. Die looppote is die laaste vyf pare aanhangsels op die voorste helfte van die kopborsstuk (cephalothorax). Ten minste een paar dra knypers. Die agterlyf het dikwels vyf paar swempote, wat ook deur die wyfies gebruik word om hul eiers te dra. Sommige spesies het 'n stertvin. Krappe, daarteenoor, het 'n baie klein agterlyf, wat onder die karapaks (dop) gedra word, maar geen stert nie.
Baie tienpotiges is aasvreters - wat dooie plante en diere vreet. Krappe is omnivore, wat alge en skulpvis (soos weekdiere) vreet. Krewe vreet meestal lewendige prooi.
| afr_Latn_187 |
Makapanstad
Makapanstad is 'n nedersetting en die setel van die Moretele Plaaslike Munisipaliteit, in die Bojanala-distriksmunisipaliteit aan die oosgrens van die Noordwesprovinsie, Suid-Afrika.
Makapanstad staan onder die leierskap van die Makapan-familie. Hulle is die Bakgatla Ba Mosetlha en hulle totemdier is die aap. Die mees onlangse hoof van Makapanstad was Kgosi Motshegwa Hendrick, wat op 26 Desember 2014 gesterf het.
| afr_Latn_188 |
Garnaal
Garnale (Caridea), ook bekend as die ware garnale, is klein kreefagtige diere wat aan die orde van tienpotiges (Decapoda) behoort. Hulle kom wydverspreid oor die wêreld in beide vars- en seewater voor, hoewel die meeste spesies in die see leef. Van die spesies kom op sandbanke voor, waar hulle hulself vir beskerming teen predatore ingrawe.
Garnale word deur mense as 'n voedselbron benut en word as 'n lekkerny beskou. Dit kan, byvoorbeeld, as garnaalkelkies of garnalebroodjies (broodjies wat uitgehol en met gaar garnale gevul is) opgedis word.
| afr_Latn_189 |
Mathibestad
Mathibestad is 'n nedersetting in die Moretele Plaaslike Munisipaliteit, in die Bojanala-distriksmunisipaliteit op die oosgrens van die Noordwesprovinsie, Suid-Afrika.
| afr_Latn_190 |
Mogogelo
Mogogelo is 'n nedersetting in die Moretele Plaaslike Munisipaliteit, in die Bojanala-distriksmunisipaliteit in die ooste van die Noordwesprovinsie, Suid-Afrika.
| afr_Latn_191 |
Syferskuil
Syferskuil is 'n nedersetting in die Moretele Plaaslike Munisipaliteit, in die Bojanala-distriksmunisipaliteit op die oosgrens van die Noordwesprovinsie, Suid-Afrika. Dit lê ongeveer 20 kilometer suid van Bela-Bela en 10 kilometer wes van die N1.
| afr_Latn_192 |
Moretele
Moretele is 'n nedersetting in die Moretele Plaaslike Munisipaliteit, in die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit aan die oosgrens van die Noordwesprovinsie, Suid-Afrika.
| afr_Latn_193 |
Gereformeerde kerk Bethlehem
Die Gereformeerde kerk Bethlehem is 'n gemeente van die GKSA op die Vrystaatse dorp Bethlehem, maar dit sluit ook die dorpe Clarens, Kestell en Paul Roux asook Golden Gate in. Die gemeente was einde 2001 die grootste in die Klassis Ladybrand toe dit 304 belydende en 114 dooplidmate gehad het. Einde 2014, nadat die klassis se naam verander is na Oos-Vrystaat, het Bethlehem 253 belydende en 48 dooplidmate gehad, die tweede grootste gemeente in die klassis naas Frankfort.
| afr_Latn_194 |
Gereformeerde kerk Boshof
Die Gereformeerde kerk Boshof is 'n gemeente van die GKSA in die Wes-Vrystaat met sy setel op die dorp Boshof, hoewel die gemeentegrense ook Dealesville insluit. Einde 2014 het die gemeente 50 belydende en 10 dooplidmate gehad, dieselfde getal belydende lidmate as einde 2001, toe daar een meer dooplidmaat was. Einde 2016 was die syfers onderskeidelik 49 en 11.
Boshof het op 29 Desember 1871 van Reddersburg (in 1859 gestig as eerste Gereformeerde kerk in die Oranje-Vrystaat) afgestig. Tot in daardie stadium moes lidmate van Boshof meer as 180 km aflê om hul kerklike voorregte op Reddersburg te gaan uitoefen. Die NG gemeente Boshof het indertyd twee erwe aan die Gereformeerde Kerk geskenk waarop 'n kerkgebou opgerig kom word. In 1880 het die kerkraad die bouplan vir die kerk aan die gemeente voorgelê. In November daardie jaar is besluit om die kerkgebou op te rig van 25 voet by 50 voet en 20 voet hoog. Die mure sou 36 duim breed wees.
Aan die begin sou daar nie 'n vloer en preekstoel wees nie. Die pleisterwerk buite sou ook nie gedoen word nie. Die kerk is in gebruik geneem op 19 Augustus 1882. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog is dié kerk as bergplek vir oorlogstuig gebruik. In 1960 is die kerkgebou, soos destyds die mode was, met siersteen aan die buitekant beklee, ook omdat die oorspronklike stene en pleisterwerk toe al baie verweer was, maar ongelukkig is die oorspronklike hoeksteen toegebou. 'n Kerktoring is terselfdertyd aangebou en 'n nuwe klok aangebring.
In die middel jare sestig is 'n pyporrel bekom van die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid en in die kerk geïnstalleer. In 1972 het die gemeente 'n kerksaal gebou en in 1983 is heelwat veranderings aan die kerkgebou aangebring. Nuwe banke en 'n nuwe akoestiese plafon, preekstoel, matte en gordyne is aangebring; ook is die klok geëlektrifiseer. Terselfdertyd is die orrel van voor in die kerk na agter verskuif.
| afr_Latn_195 |
Gereformeerde kerk Brandfort
Die Gereformeerde kerk Brandfort is 'n buitengewoon klein gemeente van die GKSA op die dorp Brandfort, noordnoordoos van Bloemfontein, maar dit sluit ook Verkeerdevlei in. Brandfort het einde 1997 33 belydende en drie dooplidmate gehad. Einde 2001 hê dit afgeneem tot 26 en een, en einde 2014 tot 12 en nul, wat tot einde 2016 konstant gebly het.
Die dorp en distrik Brandfort was tot 1951 'n enkele wyk van die Gereformeerde kerk Bloemfontein. Destyds het die Bloemfonteinse Metodistegemeente hul kerkgebou op Brandfort aan die Gereformeerdes beskikbaar gestel met dien verstande dat die Gereformeerdes die gebou in stand sou hou. Aanvanklik is een erediens per maand gehou.
Mettertyd het die lidmate toegeneem en so het die gedagte van kerkbou posgevat. In Julie 1958 het bouwerk aan die kerksaal begin waarvan ds. P.J. Coetzee die hoeksteen op 13 Desember daardie jaar gelê het. Op die hoeksteen word die bourekenaar aangedui as W.H. Malan en die bouaannemer as W. van Rooy en Seuns. Dis nie bekend of dit die bouaannemers is wat bankrot gespeel het tydens die bouwerk nie.
In 1963 is die gemeentegrense in die Vrystaatse hoofstad verander en het Brandfort deel geword van die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Noord (gestig in 1961). Tog was daar steeds by die Gereformeerdes van Brandfort die drang na selfstandigheid en toe reeds het die ampsdraers in die vier Brandfortse wyke hul eie sake behartig en dat verslag gedoen.
Eindelik, in Mei 1972, is 'n eie gemeente gestig met 64 belydende en 36 dooplidmate. Die nuwe gemeente het as bruidskat die eiendom van die moedergemeente op Brandfort ontvang.
| afr_Latn_196 |
Malacostraca
Malacostraca (hoër kreefagtiges) is die grootste van die ses biologiese klasse waarin kreefagtiges (skaaldiere) opgedeel word. Die klas bestaan uit ongeveer 40 000 lewende spesies, wat in 16 ordes ingedeel word. Die meeste diere wat in die volksmond kreefagtiges genoem word, soos die tienpotiges (krewe, krappe, garnale), behoort aan die groep.
Malacostraca kom oorvloedig in alle mariene-omgewings voor, en het ook varswater en landelike habitats gekoloniseer. Hulle is gesegmenteerde diere, met 'n liggaam wat uit 20 (selde 21) segmente bestaan, wat in 'n kop, bors en buik verdeel is. In sommige spesies is die kop en bors tot een hegte stuk vergroei.
| afr_Latn_197 |
Gereformeerde kerk Bultfontein
Die Gereformeerde kerk Bultfontein is 'n gemeente van die GKSA met sy middelpunt op die Vrystaatse dorp Bultfontein, maar dit sluit ook die dorp en distrik Hoopstad in.
| afr_Latn_198 |
Gereformeerde kerk De Aar
Die Gereformeerde kerk De Aar is 'n gemeente van die GKSA op die Noord-Kaapse dorp De Aar, maar dit sluit ook omliggende dorpe soos Britstown, Carnarvon, Murraysburg, Richmond en Victoria-Wes in.
Die gemeente het besonder swaar deurgeloop onder gedurige wegtrek van Gereformeerde lidmate uit dié deel van die Noord-Kaap en aanliggende Oos-Kaap. Einde 1997 was hier nog 138 belydende en 44 dooplidmate, wat einde 2001 afgeneem het tot 122 en 32. Einde 2011 het dit teruggesak tot 70 en 16 en einde 2014 steeds verder tot 57 en 11. In dié tyd het die lidmaattal van die Gereformeerde kerk Colesberg, met wie De Aar tussen 1983 en 2008 in kombinasie was, van 71 en 34 afgeneem tot 32 en agt en dié van die nabygeleë Gereformeerde kerk Philipstown van 49 en 21 tot 19 en nul. In die GKSA se eeufeesjaar (1959) het De Aar 'n sieletal van 558 gehad, Colesberg 163 en Philipstown 138.
De Aar het op 27 April 1923 onder leiding van ds. J.G.H. van der Walt van die Gereformeerde kerk Philipstown afgestig, 10 jaar ná die NG gemeente De Aar se afstigting, hoofsaaklik van die NG gemeente Hanover. Al het predikantsbediening al van 1907 af voorgekom en is eredienste vir Gereformeerdes gereeld sedert 1914 op De Aar gehou, is die eerste predikant in die persoon van ds. W.J. van der Merwe eers in 1933 beroep. Met De Aar as sy standplaas moes hy ook die verre Kaapstad en later ook Kimberley in kombinasie met De Aar bedien. Van 1946 af sou ds. M. Postma (predikant tot 1970) ook Upington en die suide van Suidwes-Afrika van hier af bedien.
Die gemeente kon eers agt jaar ná sy stigting sy eie kerkgebou oprig. Oorspronklik het Philipstown se kerkraad in 1917 die Wesleyaanse gemeente se kerksaal gekoop. Van 1932 af is beplan vir die oprigting van 'n nuwe kerk, maar die bouwerk het eers in 1934 begin, waarskynlik weens die uitwerking van die Groot Depressie. Dié gebou is in 1935 in gebruik geneem en het £4 000 gekos. Toe herstelwerk daaraan nodig word, het die kerkraad besluit om dit te laat herbou. So is die huidige kerkgebou in 1961 in gebruik geneem. Die argitek van albei geboue en van die nuwe kerktoring, was Wouter De Wet Bronkhorst van Kaapstad.
Die Hammond-orrel in die kerk dateer van 1960 en is ontwerp en gebou deur die forma Cooper, Gill en Tomkins van die Kaap. Die gemeente se susteraksie was grootliks verantwoordelik vir die geldinsameling wat die koste van die aankoop en installering van die orrel, naweek R9 450, bestry het.
Weens die afname in sy lidmaattal tot 33 belydende lidmate in 2022 moes die kerkraad in daardie jaar die 87 jaar oue kerkgebou verkoop.
| afr_Latn_199 |
Subsets and Splits